Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 31 Mei

God kom weer na ons toe

Bybelteks(te)

HANDELINGE 1

Jesus se hemelvaart

9Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en 'n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

HANDELINGE 1:9-11AFR83Maak oop in die Bybelleser

DIE OPENBARING 1

Tema van die boek

7Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag.

Ja, dit is seker!

8“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

DIE OPENBARING 1:7-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons bely dit: Ek glo in Jesus Christus wat weer sal kom om te oordeel oor dié wat lewe, en dié wat reeds gesterf het (Apostoliese Geloofsbelydenis). En ons sing dit graag: As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy kinders; al sy kinders wat in Hom glo, om by Hom te wees (Ges 599).

Ons verwag dat Jesus in die eindtyd sal terugkom na die aarde, omdat Hy self dit so voorspel en belowe het, soos in die profetiese rede in Lukas 21:27: In die tyd van tekens in die natuur en van moedeloosheid en angs onder die mense op die aarde, sal die Seun van die mens met groot krag en majesteit op ’n wolk kom, soos wat Hy met sy hemelvaart weggegaan het. Ons verwag dat die Here weer sal kom as Regter, om te oordeel; maar vir kinderlike gelowiges as Vader, om sy kinders vry te spreek en hulle na Hom te neem, omdat Jesus al in ons plek voor die regbank van God gestaan het.

Daarom is ons opgewonde oor die eindtyd en Jesus se terugkoms na ons toe, want dit beteken vir gelowiges net goeie dinge: Filippense 3:20 sê ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. Hy gaan dan ons tydelike en nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees, en dan sal ons volledig ontslae wees van ons aardse tentwoning, en ons sal vir ewig in die Here se teenwoordigheid lewe.

1 Tessalonisense 4 troos ons met die voldonge feit van die wederkoms en wat met ons sal gebeur. Daar lees ons selfs die program: Eers gaan die bevel gegee word en die stem van die aartsengel weerklink. Dan sal die Here self uit die hemel neerdaal. En dan sal dié wat reeds gesterf het en dié wat nog lewe, die Here tegemoet gaan en altyd by Hom wees! Mag die Here gou weer kom!

Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS