Dagboek 2021 – 30 Mei
God kom na ons deur die Nagmaal en Doop
Bybelteks(te)
MARKUS 14
Die instelling van die nagmaal
MARKUS 16
Jesus verskyn na sy opstanding
God kom vandag nog na ons toe deur sigbare simbole, want ons is maar kortsigtig en sien steeds ’n raaiselagtige beeld in ’n dowwe spieël.
Jesus het die Doop ingestel toe Hy met sy afskeidswoorde vir sy dissipels gesê het dat hulle mense in sy Naam moet doop. Petrus verduidelik dit ook vir die nuwe bekeerdes in Handelinge 2:38 dat hulle hulle moet bekeer en gedoop moet word in die Naam van Jesus Christus, dan sal God hul sonde vergewe en die Heilige Gees vir hulle gee. So het Johannes die Doper al aan die begin van die Evangelies (soos in Joh 1:33) getuig.
Die Doop wys vir ons dat ons sonde vergewe is, nie omdat dit ’n bad met water en seep is wat vuiligheid afwas nie, maar omdat ons Doop eintlik ’n simboliese daad is. Dit is ’n gebed tot God om ons ’n skoon gewete te gee van ons sonde, omdat Jesus uit die dood opgestaan het.
Jesus het die Nagmaal kort voor sy kruisiging ingestel met die wyn en brood wat gewoonlik deel was van die Jode se maaltyd. Hy wil hê dat mense, elke keer as hulle hierdie alledaagse goed sien, aan Hom moet dink! As ons brood sien, witbrood, bruinbrood, brood waarvan die meel met klippe gemaal is, enige soort brood, moet ons sy liggaam sien en daaraan dink dat sy liggaam vir ons gebreek en doodgemaak is.
Elke keer as ons wyn sien, of dalk druiwesap, of dalk enige sap wat ons saam met ete gebruik, moet ons dink aan sy bloed wat vir ons gevloei het toe Hy doodgemaak is. En dan somtyds, met ’n gereëlde ritme, kan ons ook ’n spesiale erediens hou, waar ons nie ’n groot maaltyd deel nie, maar net hierdie twee belangrike tekens met mekaar deel: die brood en wyn van sy liggaam en bloed. God kom immers na ons deur die tekens van wyn en brood – sigbaar en teenwoordig.
Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid