Dagboek 2021 – 1 Junie
Die Heilige Gees en getuienistaal
Bybelteks(te)
HANDELINGE 1
Die belofte van die Heilige Gees
Die volgende paar dae gaan ons kyk na die werk van die Heilige Gees. Met die uitstorting van die Heilige Gees het die apostels die gawe ontvang om in verskillende tale te getuig van Christus. So lees ons in Handelinge 2:8 dat verskillende mense die apostels se getuienis in hul moedertaal gehoor het. Van verskillende herkoms, kon elkeen in sy moedertaal hoor wie Christus is en wat Hy gedoen het. Ons gaan die volgende paar dae luister na die taal waarin daar met ons gepraat word. Behalwe dat ons Afrikaans, Engels en nog ’n paar tale verstaan, is dit noodsaaklik dat ons ook verskillende dinge moet verstaan. Dit wat ons hoor, bepaal wat ons doen. Vandag kyk ons na die taal van getuienis.
Na Jesus se opstanding en net voor sy hemelvaart is Hy en die dissipels by geleentheid saam om die tafel. Op navraag oor die tyd van die oprigting van die koninkryk van Israel, antwoord Jesus dat hulle nie die tyd hoef te weet nie. Wat wel belangrik is, is dat hulle krag sal ontvang om sy getuies te wees. Die krag van die Heiige Gees sal soos ’n dinamo in hulle werk, en die gevolg van dit wat in hulle gaan gebeur, is dat hulle sal getuig van Christus se werke. Van Jerusalem af tot aan die uithoeke van die aarde moet hul lewens ’n getuienis van Christus word. Die apostels se lewens moes so wees dat ander in en deur hulle kan sien dat hulle saam met Christus gelewe het. Die Heilige Gees sou van hulle getuies maak.
Waaroor kan ons getuig? Is ons lewe ’n geloofwaardige getuienis van ons verhouding met Christus? Mag ons deur die krag van die Heilige Gees getuig van Christus se genade. Mag ander deur ons getuienis in Christus begin glo.
Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas