Dagboek 2021 – 30 November
Hy het gekom om sy lewe as losprys te gee vir baie mense
Bybelteks(te)
MATTEUS 20
Die versoek van Jakobus en Johannes
Terwyl ons in afwagting wag om die Verlosser se koms na die wêreld te vier, moet ons by die einde begin – by die betekenis van sy dood. Hy kom om te sterf. Lewe deur sy dood verwerf.
Sy volgelinge kon hierdie boodskap glad nie verstaan nie. Hulle wag so lank vir die koms van die verlosser van Israel. Hul aardse juk het te swaar geweeg. Uiteindelik is daar sprake daarvan dat Jesus die langverwagte Verlosser is. Hy roep vir Hom dissipels byeen en onderrig hulle oor God se Koninkryk. Van die begin af was dit so anders as wat hulle verwag het. Die voorskrifte wat Hy gee is anders as die van aardse koningshuise. Dit handel nie oor aardse trone en magsposisies nie.
Jesus kom wys hoe God se Koninkryk lyk. In hierdie gedeelte sien ons die praktiese daarvan. Vir mense gaan dit oor plekke en posisies van aansien en eer, soos wat Jakobus en Johannes se moeder vir haar kinders begeer. Jesus leer die omgekeerde waardes van die Koninkryk. Wie eerste is, sal laaste wees. Die waardes wat vir God belangrik is, is om te dien, om die minste te wees, om ander bo jouself te ag, om die ander wang te draai. (Baie voorbeelde hiervan kan ons in die bergpredikasie raaklees). Om dit dalk in ander woorde uit te druk: Die hart van God se Koninkryk gaan oor liefde vir God en jou naaste. So word God, die Koning, vereer.
Vers 28 sê: “So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense”. Sy sterwe bring vir baie mense die lewe.
Die dissipels moes leer dat hulle Verlosser se koms redding gebring het, maar daarmee saam het dit sy lewe gekos. As volgelinge moet hulle ook binne God se Koninkryksreëls leef, want die eer kom God toe!
Ons moet vandag ook so leef as sy Koningskinders.
Ds Manda le Roux, Weskus