Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 1 Desember

Leef in God se lig!

Bybelteks(te)

JESAJA 2

Uit Sion kom die openbaring

1Die openbaring wat Jesaja seun van Amos ontvang het oor Juda en Jerusalem.

2Daar kom 'n tyd dat die berg

waarop die huis van die Here is,

'n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe

en sal uitstaan bo die heuwels.

Al die nasies sal daarheen stroom,

3baie volke sal daarnatoe gaan en sê:

“Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe,

na die huis van die God van Jakob

sodat Hy ons sy wil kan leer,

en ons daarvolgens kan lewe,

want uit Sion kom die openbaring,

uit Jerusalem die woord van die Here.”

4Hy sal oordeel tussen die nasies,

regspreek oor baie volke.

Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee

en van hulle spiese snoeiskêre.

Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie,

en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie.

5Kom, volk van Jakob,

laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom.

JESAJA 2:1-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Tydens Advent kyk ons vorentoe na die wederkoms van Christus, maar ons kyk ook terug na die eerste koms van Christus, terwyl ons as’t ware soos die herders op Hom wag! Daarom is Advent ’n tyd van afwagting en verwagting.

Ons ken die geskiedenis van die ballingskap. Terwyl hierdie volk van God in ballingskap sit, verlang hulle na die tempel waar God by sy volk teenwoordig was. Hulle het nodig om weer hoop te ontdek, want vir hulle voel God baie ver verwyder, selfs afwesig. Hierdie paar verse in Jesaja 2 getuig van daardie hoop wat God vir mense gee. Hoop wat ons ook tydens hierdie Advent in herinnering roep.

Ons het ook nodig om, terwyl ons met hoop uitsien na die eerste koms van die Messias, te hoor hoe Hy alles nuut gaan maak, soos die profeet Jesaja dit vir verwoord. Tog gee hierdie profeet hoop vir daardie ballinge! Alles is nie verlore nie! God sal sy beloftes gestand doen. God sal uitkoms bring. God sal vrede herstel!

Hierop kan ons ook hoop: op die heerlikheid van die verlossing waaraan ons deel het en waarna ons uitsien. Om deur die liefde van Christus gedring te word om dit ook so in ’n stukkende wêreld te gaan uitleef. Maar om die hoop van God ook sigbaar uit te leef teenoor ander, al voel ons soos hierdie volk mismoedig weens ons omstandighede.

Advent is die stille getuienis dat God aarde toe gekom het om ons met Hom te versoen. Die bevestiging dat ons pyn en leed, by die krip en later by die kruis van Christus, raakgesien word. Dat Hy ons ook in hierdie tyd sal dra en vertroos, soos Hy ons in sy Woord beloof.

Sien uit na die koms van God in hierdie Adventtyd, hou vas aan die hoop in Christus, en ervaar hoe Hy ons daagliks vernuwe om anders te wees in hierdie stukkende wêreld.

Ds Quinten Schimper, Krugersdorp/Krugersdorp-Wes

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS