Dagboek 2021 – 29 November
Die koninkryk van die hemel het naby gekom
Bybelteks(te)
MATTEUS 3
Johannes die Doper en sy prediking
Vandag is die eerste Adventsondag. Ons beweeg in die tyd in, waarop daar met afwagting gewag word op die koms van die Verlosser. Ons moet ons verplaas na die situasie waarin die mense verkeer het voor Christus se koms en die verskil wat sy koms na die wêreld gemaak het.
Die volk van God het deur ‘n baie moeilike tyd gegaan. Vir lank wag hulle al op die koms van ‘n verlosser. Hulle het baie onderdrukking ervaar en is gedwing om verskeie keisers en konings te aanbid. Die afwagting op die koms van ‘n verlosser, was op die voorgrond in hulle gedagtes en gebede.
Johannes die Doper kondig aan dat die Verlosser na die wêreld kom. Hy is die voorloper wat die pad vir die Verlosser moet kom baan. Daarom sy dringende oproep: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom. Met Christus se koms na die wêreld het daar ‘n nuwe tyd aangebreek. God se heerskappy in die wêreld kry “gesig”. Jesus se prediking wys duidelik hoe God se regering lyk. Wys waaroor dit gaan, wat die reëls van hierdie Koninkryk is en hoe mens deel daaraan kry. Vir die volk moes dit ‘n nuwe tyd aankondig – tyd van verlossing, van vry-word van onderdrukking en vervolging.
Christus se koms en sy sterwe het hierdie redding gebring. Vir die Jode en vir elkeen wat in Hom glo. Maar dit was anders as wat hulle verwag het. Die redding was nie net uit slegte situasies nie, maar ewige redding. Deur Hom kry jy deel aan ‘n ander Koninkryk. Deur Hom word jy vry van aardse beheersing deur enige magte en kragte.
Ons het nou reeds deel aan God se Koninkryk. Hierdie Koninkryk sal sy volheid bereik met Christus se wederkoms. In hierdie tussentyd kan jy weet dat jy verlos is deur die Verlosser wat vir jou aan die kruis kom sterf het.
Leef, bewus van hierdie verlossing.
Ds Manda le Roux, Weskus