Dagboek 2021 – 29 Mei
God kom na Paulus op pad na Damaskus
Bybelteks(te)
HANDELINGE 9
Saulus se bekering
Saul was ’n trotse Jood. Hy het ’n naam gedeel met koning Saul, die eerste koning van die Israeliete! Maar sy tuisdorp was nie in Israel nie, dit was heelwat verder noord, in die hawedorpie Tarsus. Dit is vandag in die moderne Turkye, maar in die antieke tyd in die Romeinse Ryk se provinsie Silisië. Soos hy trots Joods was, was Saul ook ’n trotse Romeinse burger, daarom was sy naam ook omvorm tot die meer Romeinse naam Saulus, of Paulus.
Paulus is ’n vakman, ’n tentmaker, maar hy is ook ’n trotse Fariseër. Die Fariseërs was ’n groep wat in Jesus se tyd onder die Jode bestaan het en wat baie streng reëls vir hulself en ander Jode gemaak het. Daarom beywer hy hom om die “sekte” uit te roei wat die Joodse geloof volgens hom aantas en mense mislei om die mens Jesus te volg. Paulus het dus ’n goeie lewe en ’n goeie beroep, en status onder sy volk en in die wêreld waar hy woon.
Tot op die dag toe Paulus op pad is na Damaskus om Jode wat Jesus-volgelinge geword het, uit te snuffel en te vervolg. Daar gebeur op die pad iets met hom wat hy glad nie verwag of beplan het nie en wat sy hele lewe onherroeplik verander: God kom na hom toe. Soos God vir Adam en Eva, vir Moses en Abraham en al die profete geroep het, roep Hy na hom: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En Saul die Jood antwoord: Wie is U, Here? En God antwoord: Ek is Jesus, wat jy vervolg! En Paulus begin ook onder leiding van die Heilige Gees preek, so oortuigend dat hy self vervolg word deur die Jode.
God seën Paulus se werk ten spyte van slae en teenslae, en die kerk groei en versprei, want God is by en saam met Paulus. God bly by Paulus tot die einde van sy lewe, en hul gesprek hou nooit weer op nie.
Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid