Dagboek 2021 – 30 Junie
God se Gees bring hoop deur sy Woord
Bybelteks(te)
ROMEINE 15
Die evangelie is vir alle mense
Geen mens kan sonder hoop lewe nie. Die grootste waarde van die Bybel is dat God so die hoop in ons lewend hou,want deur die Bybel leer ons vir God, die Bron van hoop, ken. Die Bybel herinner ons aan waar ons hoop vandaan kom. Wanneer ons dus die Bybel gebruik, moet ons dit met die doel voor oë doen om die hoop wat God vir ons deur sy Woord wil gee, daarin te soek en te vind.
Volgens die teksgedeelte is hoop die gevolg van twee belangrike lesse wat ons uit die Skrif leer. Die eerste is standvastigheid. Dit wil sê om aan te hou glo en op God te vertrou, ten spyte van jou omstandighede. Wanneer ons die Bybel lees, dan vind ons daarin talle voorbeelde van mense wat swaarkry. As daar dus op die oomblik een of ander vorm van lyding in ons lewe is, moet ons dit nie sien as ‘n straf van die Here nie. Dit is deel van die lewe van ‘n kind van die Here. Swaarkry gaan verby. Daar is altyd hoop.
Die tweede les wat ons uit die Skrif leer is bemoediging, dit wil sê dat die Bybel ook die instrument is waardeur God vir ons krag wil gee om deur die moeilike tye in die lewe te kom. Die fout wat mense maak wanneer hulle swaarkry, is om dan op te hou om die Bybel te lees en kerk toe te gaan. Dit is egter belangrik om juis in sulke tye ons te verdiep in God se Woord en daaruit die krag te put wat God vir ons wil gee.
Die Bybel is nie bedoel om ‘n boek vol reëls en wette te wees wat ons moedeloos maak nie. God wil nie deur die Bybel ‘n verdere gewig van skuldgevoelens op ons laai nie. Jesus Christus het ons daarvan kom bevry. Jesus Christus het ons kom wys dat God ‘n God van liefde en genade is wat ons vergewe. Hierdie beeld van God straal vir ons uit die Skrif uit.
Dr Gerhard Lindeque
Bybelgenootskap van Suid-Afrika