Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 29 Junie

God se Gees leer ons omop God te vertrou

Bybelteks(te)

LUKAS 9

Die vermeerdering van die brood

10Toe die apostels terugkom, het hulle Jesus alles vertel wat hulle gedoen het. Daarna het Hy hulle saamgeneem in die rigting van die dorp Betsaida waar hulle alleen kon wees. 11Maar die mense het dit te wete gekom en agter Hom aan gegaan. Hy het hulle verwelkom en met hulle gepraat oor die koninkryk van God, en dié wat genesing nodig gehad het, het Hy gesond gemaak.

12Toe die son begin sak, kom die twaalf na Hom toe en sê: “Stuur die mense weg dat hulle by die dorpe en plase in die omtrek slaapplek en kos kan gaan soek, want ons is hier op 'n verlate plek.”

13“Gee julle vir hulle iets om te eet,” sê Hy toe vir hulle.

Maar hulle antwoord: “Ons het hier niks meer as vyf brode en twee visse nie. Of moet ons self vir hierdie klomp mense gaan kos koop?”

14Net die mans bymekaar was al omtrent vyf duisend.

Toe sê Jesus vir sy dissipels: “Laat die mense in groepe van sowat vyftig gaan sit om te eet.”

15Hulle het toe so gemaak en almal laat regsit. 16Daarna het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Toe breek Hy dit en gee dit vir die dissipels om aan die mense voor te sit. 17Almal het geëet en genoeg gekry. Wat oorgebly het, het hulle bymekaargemaak, twaalf mandjies vol.

LUKAS 9:10-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons voel soms so oorweldig deur die armoede en lyding rondom ons. ‘n Mens wonder: Hoe kan ek regtig ‘n verskil maak? Maar swaarkry was reeds deel van die mense in Jesus se tyd se lewens. Dit het vir hulle gevoel asof God hulle vergeet het. By Jesus vind hulle egter Iemand wat omgee, wat vriendelik en beskikbaar is, Iemand wat met hulle oor God praat en aandag gee aan hulle nood. Dit is so anders as die dissipels se gesindheid wat nie wil betrokke raak nie en hulle wil wegstuur.

Jesus se opdrag tref egter soos ‘n vuishou tussen die oë: Gee julle vir hulle iets om te eet. Om God werklik te vertrou is ‘n geweldige uitdaging, amper onmoontlik. Dit laat ons ongemaklik voel en vra van ons blindelingse gehoorsaamheid. Die belangrikste moment in hierdie teksgedeelte is wanneer Jesus opkyk na die hemel en God se seën vra. Dit is met hierdie gesindheid wat ons alles in die lewe behoort aan te pak: Van die manier hoe ons ons kinders grootmaak en ons beroepe beoefen tot ons dienswerk in God se kerk.

Ons kan by Jesus leer om meer op te kyk, dit wil sê meer afhanklik van God te wees. Ons moet nie soos ‘n opgaardam wees nie maar soos ‘n pyp waardeur die God se genade en liefde by ander uitkom. Ons taak is om uit te deel. Waar mense dit verstaan, doen God wonderwerke. Die twaalf dissipels wat aanvanklik net die bietjie kos raakgesien het, tel twaalf mandjies vol brood op, ‘n mandjie vir elkeen!

Mense wat geleer het om op God te vertrou, sal altyd meer as genoeg hê. Nie noodwendig aardse middele nie, maar hulle sal die bevrediging en vreugde daarvan smaak om vir iemand anders iets te beteken. Die lewe gaan nie om wat ons het nie, maar om vir iemand iets te kan gee, om eers uit te deel en dan bymekaar te maak.

Dr Gerhard Lindeque
Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS