Dagboek 2021 – 1 Julie
God se Gees gebruik die Bybel
Bybelteks(te)
PSALMS 119
LUKAS 24
Die Emmausgangers
As dinge in die lewe nie uitwerk soos wat ons gehoop of beplan het nie is dit menslik om op ‘n stadium moedeloos te raak. Soms kan ons omstandighede skielik verander. Dan lyk die lewe sommer donker en onseker. Ons voel soms soos daardie twee manne wat teleurgesteld stap oppad Emmaus toe en sê: Ons het so gehoop… Dit is verby, hulle hoop is verpletter.
Dan begin Jesus saam met hulle stap. En waar begin Jesus om hulle weer hoop te gee? Hy begin by die Bybel. Hy praat met hulle oor die Skrifuitsprake wat op Hom van toepassing is. Soos hulle verder loop word hulle harte weer warm, met ander woorde, hulle kry weer hoop. Al word dit skemer rondom hulle, in hulle lewe is daar weer lig.
Hierdie gedeelte bevestig net weereens vir ons watter onskatbare waarde die Bybel vir ons het. Waar mense in die lewe praat oor die Bybel, kom daar weer hoop, kom daar weer lig in die duisternis. Psalm 119 vers 105 is so ʼn bekende vers en beeld: U Woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my lewenspad. Let wel, hier nie sprake van ‘n lig daar ver voor in die tonnel nie. Maar wel hier by my, voor my voet sodat ek die volgende tree kan gee. Dit verseker ons van God se teenwoordigheid. Hy is saam met ons op ons lewenspad. God wag nie net vir ons eendag in die hemel nie. Deur sy Woord en Gees stap God saam met ons deur die lewe.
Dit is noodsaaklik is dat mense hierdie wonderlike boodskap sal hoor, want God se Gees gebruik die Bybel om lig te bring in onsekere tye. Lees en oordink dit gereeld en praat met ander daaroor. Deur sy Woord maak God se Gees ons harte warm en kom ons hoop weer terug. Wat ons omstandighede ook al mag wees, mag ons altyd die warmte van die Here se teenwoordigheid en die lig van sy Woord op ons lewenspad ervaar.
Dr Gerhard Lindeque
Bybelgenootskap van Sud-Afrika