Dagboek 2021 – 30 April
Op soek na die Here
Bybelteks(te)
PSALMS 42
Mens, waarom so in vertwyfeling?
Die volgende sewe oordenkings is uit die Psalms wat almal toegeskryf is aan die Koragiete. Die Koragiete was ’n groep tempelmusikante wat verantwoordelik was vir die musiek tydens die feesdae.
Vra jouself: Wat is erger – om nie te kry wat jy graag wil hê nie, of om te verloor wat jy reeds het? Die skrywer van Psalm 42 rou oor wat verlore is. Die Psalm, wat waarskynlik geskryf is tydens die ballingskap, getuig van die intense verlange wat die Israeliete ervaar het in ’n vreemde land. Die Psalmdigter skryf oor sy verlange na die lewende teenwoordigheid van God. ’n Dors wat geles moet word. Maar hoe kan so ’n verlange bevredig word?
Verskillende mense gebruik verskillende maniere om toegang te kry tot God se teenwoordigheid. Party vas, ander mediteer. Sommige bestee tyd in die skepping om God se grootheid te oordink. Die meeste mense gebruik gebed as direkte toegang tot die Here. Die Psalmdigter verlang daarna en onthou hoe hy opgegaan het na die tempel toe, maar nou is hy in ballingskap. Tog kan hy steeds die teenwoordigheid van die Here ervaar wanneer hy in die nag ’n lied vir Hom sing, ’n gebed tot die God van my lewe (vers 9). Deur gebed kan ons altyd die teenwoordigheid van die Here ervaar, al voel dit vir ons of die golwe van die lewe oor ons slaan.
Daarom hoef die Psalmdigter nie te rou oor wat verlore is nie. Die teenwoordigheid van die Here was nooit weg nie. Nog minder hoef ons, wat die Heilige Gees ontvang het. Ons hoef ook nie te wonder waar die teenwoordigheid van die Here is in die diepte van ons persoonlike ballingskappe nie. Die Here Jesus verseker ons dat Hy vir ons die Heilige Gees sal stuur om sodoende nie weeskinders (Joh 14:18) agter te laat nie. Ons weet, ten spyte van die droogte in ons lewens, sal ons weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God! (verse 6-7).
Ds Willem Dreyer, Delareyville