Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 1 Mei

Draai na die toekoms

Bybelteks(te)

PSALMS 43

Stuur u lig en u waarheid

1Laat tog reg aan my geskied, o God,

behartig tog my saak teen 'n godlose bende,

red my van vals en misdadige mense.

2Net U is my skuiling, my God;

waarom verstoot U my dan?

Waarom moet ek gebuk gaan

onder die smaad van die vyand?

3Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei

en my bring na u heilige berg,

na u woning!

4Laat my ingaan na die altaar van God,

die God oor wie ek wil jubel en juig,

dat ek U kan loof met die lier,

o God, my God!

5Waarom is ek so in vertwyfeling

en waarom kerm ek so?

Vertrou op God!

Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing.

Hy is my helper en my God!

Psalms 42 en 43 word gewoonlik as ’n eenheid hanteer. Waar Psalm 42 rou oor die verlies van die tempel en oor die tempelsanger se geluk handel, sien ons in Psalm 43 dat die digter die verlies al verwerk het. Die skrywer verbeel hom al die vreugdes wat op hom wag.

Die aangrypende van Psalms 42 en 43 is die verandering wat in die digter se gemoed gekom het, by wyse van spreke, in die tydperk tussen die twee Psalms. Niks van die digter se omstandighede het verander nie. Die volk is steeds in ballingskap weggevoer en die tempel is steeds vernietig. Maar die digter se klaaglied het in ’n loflied verander. Wat het gebeur?

Die Psalmdigter hanteer sy verlies deur nie te fokus op die verlede of die krisisse van die hede nie, maar op die hoopvolle toekoms. Psalm 43 sê: Ja, als lyk nou na donkerte en swaarkry, maar daar is uitkoms wat aan ons gebied word. Ons sal nie altyd uitgelewer wees aan die goddelose bende in Babel nie (vers 1), want hy het die hoop dat die Here sy lig en sy waarheid sal stuur en dat dié ons sal lei na sy heilige berg. So ook hoef ons nie te fikseer op die verlede of selfs die hede nie, want die Here God belowe vir ons uitkoms.

Psalm 43 en Psalm 137 staan in skrille kontras met mekaar. Psalm 137 kon nie hul gedagtes red uit die krisisse van die hede nie en ons het gesit, en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink. Hulle kon nie dink dat hulle ooit weer ’n lied van die Here sal sing nie.

Christus se kruisdood en opstanding laat ons ook toe om ons rug op die verlede te draai. Die ou mens het saam met Christus gesterf, en ’n nuwe mens het saam met Christus uit die graf opgestaan. Daarom kan ons ook weet, soos die Psalmdigter, dat ons nie in ons verliese en swaarkry vasgevang is nie. Ons sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!

Ds Willem Dreyer, Delareyville

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS