Dagboek 2021 – 29 April
Liefde is ’n kenmerk van Christenwees
Bybelteks(te)
1 JOHANNES 4
God is liefde
Die liefde is nie net die groot toets waaraan ons onsself kan beoordeel nie. Die liefde van een mens teenoor ’n ander bevestig nie alleen maar vir die gelowige self dat hy of sy ’n kind van God is nie. Die liefde doen veel meer. Dit maak dat ook ander mense my as kind van God moet kan herken. Die liefde is, met ander woorde, nie net ’n toets vir myself nie, maar ook ’n wesenskenmerk van Christenwees vir ander om raak te sien. Die gebod julle moet mekaar liefhê vra nie dat ons oor die liefde moet filosofeer nie, dit vra handeling. Die liefdesgebod vra ook nie dat ek moet somme maak oor waarvoor ek kans sien en waarvoor nie. Dit vra spontane en onwillekeurige handeling. En juis omdat die liefdesdaad spontaan gedoen word, gebeur daar iets geweldigs.
Niemand het God nog ooit gesien nie, sê Johannes. Maar as ons mekaar spontaan liefhet, bly God in ons. Dan bly die Liefde in ons en word die liefde van God volmaak in ons. Ongelooflik! Wanneer en waar ons die liefde spontaan uitleef, onwillekeurig, daar word God in ons sigbaar vir ander mense. Dan kom God, na die aarde en tussen mense. En omdat ek nie self op die voorgrond is nie maar in die tweede plek, neem God hier die eerste plek in. Jesus het gesê: Laat julle lig dan so skyn voor die mense dat hulle julle goeie werke kan sien en … julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.
Elke dag behoort ons dus so die toonvensters te wees waarin God sy liefde vir sy wêreld kan uitstal. Elke dag behoort ons deur die liefde die onsigbare God sigbaar te maak vir ’n wêreld waarin God al vir baie irrelevant geword het. God se kenmerk in ons is liefde. En liefde is die vervulling van die wet. En is liefde nie op die ou einde eintlik maar al waaroor die gelowige se hele lewe behoort te gaan nie?
Dr Christo van der Merwe, Emeritus