Dagboek 2021 – 3 Desember
Onthou om te hoop!
Bybelteks(te)
PSALMS 122
Bid dat Jerusalem vrede mag hê
Daar is min Psalms wat ons op so ’n visuele reis na Jerusalem neem tydens die feestye, soos Psalm 122. Dit is maklik om te dink aan die voorbereidings wat nodig was – die opwinding (en gevare) van die reis wat afgelê moes word, die tasbare atmosfeer wanneer duisende gelowiges in prosessie die heilige stad binnegaan en die tempel betree, en daarna weer in gelid huiswaarts keer.
Terwyl hulle optrek, onthou hulle! Die algehele gemoedstemming sou sekerlik dié van blydskap en tevredenheid kon wees. Baie van hierdie pelgrims verlang daarna om die mure van die Dawidstad weer te sien. Daardie mure wat afgebreek en weer herbou is. Om in die strate te stap waar geloofshelde gewandel het.
Die stad is die toneel van Israel se verlede, die simbool van eenheid waar verstrooide Israeliete weer herenig is, in die geloof saamgebind is! En hierdie pelgrim bid seën af oor Jerusalem. Iets van die heerlikheid van God wat hy ervaar het, bly hom by. Dit word nou ’n gebed van dank en lof! In hierdie Psalm is daar duidelik progressie: die dank wat hy bring (eerstens aan die stad en sy inwoners), word later geestelik,’n gebed (wanneer hy dit wat hy onthou, verwoord in seënbedes).
In elke tyd en eeu is die huis van die Here die ruimte waar hemel en aarde mekaar ontmoet. Hier ontvang die mens ’n tikkie van die heerlikheid van God wanneer God na ons uitreik. Hier reik ons na die hemel wanneer ons iets van God se goedheid ervaar, want hier onthou ons! Vanuit die huis van die Here vloei genade en krag wat rigtinggewend is vir ’n mens se bestaan.
Hier in die Adventtyd wag ons dat sy saligheid nie net ons ruimte nie, maar ons harte en lewens moet vul! Terwyl ons wag op die tweede koms van Christus, heerlik op die wolke, sien ook die ster raak wat die koms van die Verlosser aandui.
Ds Quinten Schimper, Krugersdorp/Krugersdorp-Wes