Dagboek 2021 – 4 Desember
Eendag as ek groot is...
Bybelteks(te)
LUKAS 2
Simeon en Anna by die tempel
Ons hoor dikwels hoe mense sê: Eendag as ek groot is… En ons almal het daardie drome! Daardie iets waarna ons uitsien, amper met verlange na smag. Vir Simeon was die droom, die groot lewensideaal om na te streef, om die Messias te sien. Om die Christus van God te aanskou voor hy sterf. As hy maar net een keer kan kyk in die gesig wat God se lig daarin dra, sou hy met ’n geruste hart kon sterf. Dit is wat hy wou doen as hy eendag groot is…
En dit het ook so gebeur. Simeon het dadelik begin om God te prys vir hierdie wonder om die Verlosser van die mensdom te mag vashou, maar bowenal vir die wonder van God met ons! Die Kind wat in Betlehem gebore is, sou uiteindelik groot word en vrede bring. Vrede en oordeel. Oordeel vir diegene wat nie bereid is om sy vredesboodskap te aanvaar nie en Hom verwerp. Maar vrede juis vir diegene wat bereid is om in ’n herstelde verhouding met Hom te staan.
Wanneer ons in hierdie tyd van die jaar op Christus se koms wag, staan ons eintlik halfpad krip toe en halfpad kruis toe. Ons is as’t ware tussenin: in daardie oomblik van die alreeds en die nog nie. Die Lig het gekom, maar moet nog tot die diepste duisternis binne en buite ons deurbreek. Ons sien die lig op die horison en ons wag geduldig op sy koms!
Om waarlik op Christus se koms te wag, is om ons ook voor te berei om Hom in ons lewens te verwag. Om ons stukkende lewens ook voor Hom bloot te lê. Dit is dan dat ons nederig voor daardie krip kniel en ons Koning aanbid, maar dit is met dieselfde nederige harte waarmee ons agter Hom moet aanloop wanneer Hy nie meer net ’n Kindjie is nie.
Ds Quinten Schimper, Krugersdorp/Krugersdorp-Wes