Dagboek 2021 – 2 Desember
Vrede vir julle
Bybelteks(te)
LUKAS 3
Die prediking van Johannes die Doper
Vrede, ware vrede, is iets wat die wêreld broodnodig het. Dit is vrede wat deur die liggaam van ’n mens na die aarde gekom het sodat die wêreld waarlik ’n God kan raaksien wat met deernis omgee, ’n God wat ware vrede bring vir elkeen in wie Hy ’n welbehae het. Die vrede wat God bring, is die herstel van ’n verhouding wat verbreek is. Herstel wat moontlik word deur die verlossing wat Jesus Christus bring.
Hier lees ons van al die magtige heersers en die grondgebied waaroor hulle regeer het. Dit is juis om aan te dui dat die evangelie van Christus nie los staan van dit wat in mense se lewens gebeur nie. Dit is regeerders wat die mag gehad en bepaal het in ’n eksklusief patriargale wêreld. Dit is die geskiedenis waarin God kies om in te gryp. Dit is die wêreld wat God se vrede nodig het!
Na hierdie “verslag” kry ons die boodskap van Johannes die Doper. Hierdie teksgedeelte gee vandag vir ons soveel insig in ons roeping as kinders van God in ’n wêreld wat nodig het om weer op God te wag. Die woorde waarmee Johannes sy prediking begin, is treffend. Die Griekse woord metanoia beteken letterlik om jou gedagtes te verander na ’n diepterefleksie. En op die geloof toegepas, om jou gedagtes op God te fokus wanneer jy van Hom bewus raak en jou eie nietighede voor Hom aan die lig kom.
Ja, dit is Jesus wat die mens kom wys het hoe om hierdie vrede te leef. Dit was Jesus wat die mens begelei het om vrede in Hom te vind. Die evangelie van Jesus Christus help ons om in ’n stukkende wêreld die boosheid teë te werk, want ons kan nie met die evangelie van God kennis maak en steeds dieselfde bly nie. Ons kan nie die vrede van God ervaar en dit vir onsself hou nie.
Ds Quinten Schimper, Krugersdorp/Krugersdorp-Wes