Dagboek 2021 – 2 Augustus
Niks is vir God onmoontlik nie
Bybelteks(te)
JEREMIA 32
Die bykans ondraaglike druk neem daagliks toe. Besighede, tehuise, maatskaplike dienste, kerke en skole is onder druk. Kontrakte, loopbane, die ekonomie, eiendomswaardes, huurinkomste, pensioenfondse, spaargeld – alle finansies is onder druk. Huwelike, gesinne en ander verhoudings is ook onder druk. Op politieke en sakegebied word ons gereeld herinner hoe gou die skynbaar onmoontlike noodwendig raak. Maar gelowiges het dit deur die eeue baie gesien – hoe God in die onmoontlike spesialiseer!
Moenie tou opgooi as gevolg van beproewinge en spanning nie! God se oë bly op jou. Hy rol nog steeds klippe uit ons pad. Hy voed ons steeds in die woestyn, Hy maak steeds ’n pad waar ander net versperrings en struikelblokke sien. Hy verskaf steeds lig wanneer dit donker om jou begin raak.
Ongeag wat die spesifieke uitdagings is waarmee jy tans te kampe het – dit sal weer beter gaan. Daar is eintlik net een ding wat ons met sekerheid van slegte tye kan sê: Dit gaan verby. Dit gaan tog nooit nét goed nie, en dit gaan nooit nét sleg nie. Dit is die eb en die vloed van die lewe.
Vertrou op Hom vir jou gesondheid, jou loopbaan, jou huwelik, jou kinders se toekoms, jou land se toekoms. Niks is vir Hom onmoontlik nie.
Ja, maar jy weet nie hoe my man, of my vrou, regtig is nie! Nee, niks is vir God onmoontlik nie.
Jy weet nie hoe my omstandighede lyk nie! Niks.
Jy weet nie hoe erg hierdie krisis is nie! Niks.
Jy weet nie hoe erg my kind se dwelmprobleem regtig is nie! Niks is vir Hom onmoontlik nie.
Jy weet nie hoe sleg dit by die firma gaan nie. Niks!
Jy weet nie hoe droog dit hier by ons is nie. Niks!
Jy weet nie hoe benard my finansiële posisie regtig is nie! Niks.
Jy ken nie my bestuurder nie, my verlede nie, my familie nie! Niks, niks, niks.
Jy ken nie my persoonlikheid, my probleme, my lewe nie! Niks, niks, niks is vir Hom onmoontlik nie.
Dr Johan van Staden, Sionspoort