Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 28 November

Swyg soos die graf

Bybelteks(te)

MARKUS 15

Jesus word begrawe

42Dit was Vrydag, dit is die dag voor die sabbatdag, en dit was al die middag laat. 43Josef van Arimatea, 'n vooraanstaande lid van die Joodse Raad en iemand wat self ook uitgesien het na die koms van die koninkryk van God, kom toe daar aan. Hy het dit gewaag om na Pilatus toe te gaan en die liggaam van Jesus te vra.

44Pilatus was verbaas om te hoor dat Hy al dood is. Hy het die offisier laat roep en hom gevra of Jesus lankal gesterwe het. 45Toe hy van die offisier verneem dat dit wel so is, het hy die lyk vir Josef gegee.

46Josef het 'n stuk linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en neergelê in 'n graf wat in die rots uitgekap was. Hy het 'n klip voor die ingang van die graf gerol. 47Maria Magdalena en Maria die moeder van Joses het gestaan en kyk waar Hy neergelê word.

MARKUS 15:42-47AFR83Maak oop in die Bybelleser

Tydens die Paasnaweek het ons die tradisie om die Saterdag na Goeie Vrydag as Stil-Saterdag te vier. Christus is in die graf! Ons verkeer in stilte. Dit laat my dink aan die spreekwoord: swyg soos die graf. ‘n Doodse stilte.

Josef van Arimathea het Jesus se liggaam van die kruis gaan afhaal, dit in linne toegedraai en in die rotsgraf gaan neerlê. Maria, die moeder van Jesus en Maria Magdalena, het gestaan en kyk waar Hy neergelê is. Die finaliteit van die einde van Jesus se lewe sigbaar in die koudheid van ‘n graf. Doodse stilte. Asof die dood regeer.

As jy al langs ‘n graf gestaan het, weet jy dat daar binne-in jou nie ‘n doodse stilte is nie, maar die harde skreeu van pyn en hartseer, omdat jy gekronfonteer word met die finaliteit van die einde van iemand se lewe saam met wie jy die lewe gedeel het.

In hierdie seer van jou, refrein die evangelie en maak die oordonderende geraas in jou stil. Die stilte van die graf word oopgebreek. Ons as gelowiges hou vas aan die wete dat die graf nie die einde is nie, maar dat Christus die dood oorwin het. 2 Tim 1:10 sê Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring.

Christus se graf swyg nie – dit spreek Boekdele. Dit vertel van God se oorwinning. Hy regeer oor alle magte en kragte. Ons as gelowiges het deel aan hierdie oorwinning. Die Woord troos ons dat ons, wanneer ons sterwe, ook deel het aan die opstanding. Hy het opgestaan uit die dood en opgevaar waar Hy saam met God regeer deur sy Gees en deur ons, sy kerk. Terwyl ons wag op sy wederkoms, kan ons juig, ook in die aangesig van die dood.

Wie met Hom sterf, sal met Hom leef-
Ons sondeskuld het Hy vergeef.
Hy leef – ons deel sy heerlik lot:
Hy leef, ons redder en ons God.
Gesang 405

Ds Manda le Roux, Weskus

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS