Dagboek 2021 – 28 Mei
God kom na ons deur sy Gees
Bybelteks(te)
JOHANNES 14
Die Heilige Gees sal by julle bly
JOHANNES 16
HANDELINGE 2
Die uitstorting van die Heilige Gees
Na Jesus se hemelvaart kom Hy na ons toe terug deur die Heilige Gees. Jesus het sy volgelinge met hierdie belofte getroos. In Handelinge 2 en verder in die boek en deur die geskiedenis gebeur dit: Die Heilige Gees word uitgestort en kom werk in mense se harte en verstand.
Die Heilige Gees leer mense om vrymoedig te getuig dat Jesus die dood oorwin het. Die Gees het Petrus en die ander dissipels laat verander in welsprekende predikers wat sonder senuwees voor duisende mense gepraat het en hulle gekonfronteer en oortuig het. Jesus het dit mos al tydens sy aardse lewe vir sy 12 dissipels gesê: Al lê daar ook vir julle vervolging voor, moenie julle bekommer oor wat julle moet sê of hoe julle dit moet sê nie, want die Heilige Gees sal deur julle praat!
Die Heilige Gees van Jesus is ook ons Voorspraak, en praat namens ons met God as ons woorde te min is. Paulus stel dit in Romeine 8 so dat die Gees ons in ons swakheid bystaan as ons nie weet wat en hoe om te bid nie. As ons probleme te groot lyk, of as dit lyk of God te ver is en ons nie verstaan nie, dan pleit die Gees vir ons, namens ons.
Die Heilige Gees rus ons toe om dinge te doen wat normaalweg vir ons moeilik is: Die Gees gee ons geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, selfbeheersing, nederigheid en die vrugte van die Gees wat in Galasiërs genoem word. Maar die Gees leer mense selfs om praktiese dinge te doen, soos vir Besaleël en Oholiab in Eksodus 31 en 35, vir wie die Gees toegerus het met vaardigheid, insig en verstand om enige handwerk te kon doen.
Die Heilige Gees bring ook vrede in mense se harte. Dit is ’n ander soort vrede as wat die wêreld gee – vrede ten spyte van probleme en stresvolle omstandighede. Ons geloof word deur die Gees ’n saak van vreugde en vrede gemaak.
Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid