Dagboek 2021 – 28 Junie
God se Gees laat ons oorwin
Bybelteks(te)
JOHANNES 20
Die leë graf
Sonder dat hulle dit in daardie stadium geweet het, was hierdie twee dissipels op pad na die grootste Goddelike moment van alle tye: Jesus se leë graf! Hulle het in daardie stadium waarskynlik gedink hulle gaan nog die skelms vastrek wat Jesus se liggaam kom steel het. Vir hulle was die graf nog die einde. Min het hulle geweet dat God se plan baie groter is en baie verder strek as die graf. Eintlik was hulle besig om te hardloop na die lewe toe, nie die dood nie. Na ʼn nuwe begin, nie die einde nie.
Paulus gebruik ook die beeld van ʼn wedloop om iets te verduidelik van ons geloofsreis. Van ons oppad wees na ’n groter, heerlike toekoms. Waar is ons vandag in hierdie wedloop? Ons is maar nog by die wegspring. Die skoot het sopas geklap. Hoe lyk hierdie wedloop? Dit is nie ‘n naelloop waarin dit gaan oor wie die vinnigste is nie. Dit is ook nie ‘n maraton, ‘n lang en moeisame stryd nie. Nee, ons geloofsreis kan vergelyk word met ‘n aflos. In ‘n aflos is daar die krities belangrike oomblik wat die hele uitkoms van die wedloop bepaal en dit is die oorgee van die stokkie. Dit help nie jy kom eerste by die wenpaal aan maar jy het nie die stokkie nie.
In die lewe gaan dit nie oor wie die vinnigste kan hardloop nie. Ook nie wie die verste kan hardloop nie. Maar of ons die kosbare boodskap van God se wonderlike genade en liefde verstaan. Vir ‘n oomblik is ons die draers van hierdie wonderlike boodskap binne die raamwerk van ‘n baie groter prentjie.
Soms kom ons op ‘n punt in die lewe wat dit vir ons voel asof ons misluk het. Kinders van die Here is egter meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet, want deur God se Gees lewe Jesus in ons. Ons hoef daarom nie paniekerig rond te hardloop nie. Jesus is nie weg nie. Hy leef in ons. Ons beste dae lê nog voor.
Dr Gerhard Lindeque
Bybelgenootskap van Suid-Afrika