Dagboek 2021 – 28 April
Goeie werke
Bybelteks(te)
JAKOBUS 2
Glo en doen
Hierdie gedeelte in die Bybel was die oorsaak van baie kerklike onenigheid. Die klem op goeie werke was een van die redes waarom die Hervorming van die destydse Rooms-Katolieke Kerk weggebreek het. Die Hervorming het geleer: Deur die geloof alleen word ’n mens gered. Dit is so sterk beklemtoon dat Luther die boek Jakobus ’n boek van strooi genoem het. ’n Boek van strooi omdat Jakobus soveel klem op goeie werke lê. Dit het volgens Luther in teenspraak gestaan met die boodskap van die brief aan die Romeine.
Dalk het Luther se siening ons oor die jare subtiel so beïnvloed dat ons onbewustelik onseker word wanneer die uitdrukking goeie werke ter sprake kom. Tot so ’n mate dat ons geneig is om alles wat na medemenslikheid se kant toe neig, met die een of ander -isme te etiketteer: liberalisme, humanisme, of in ’n bepaalde stadium in die geskiedenis kommunisme, en dit dan so opsy te skuif. Sou dit dalk die rede wees waarom gemeentes soms geneig is om moeilik betrokke te wil raak by sosiale projekte?
Jakobus oordeel egter anders hieroor. Hy vra: Sê jy dat jy in God glo? Indien jy ja sê, moet jy mooi luister. Die duiwels glo ook! As jy net kan sê dat jy glo, is jy nog niks beter as die duiwel nie. Die toets vir jou geloof kom as iemand na jou toe kom en nie klere het om aan te trek nie, of nie kos het om te eet nie. Die duiwelsgeloof sal dan sê: Jammer om te hoor, gaan word warm en word versadig. Die Christelike geloof sal brood en klere gee. Die Christelike geloof sal altyd iets van God se omgeehart weerspieël, want so weet gelowiges mos: God gee aan vreemdelinge brood en klere (Deut 10:18).
Besluite wat op vergaderings geneem word en “kennisname” van die behoeftes van mense is duiwelsgeloof as daar niks gedoen word nie. Vandag miskien meer as ooit in die geskiedenis is dit noodsaaklik om te leef wat ons glo.
Dr Christo van der Merwe, Emeritus