Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 27 November

Lewende hoop

Bybelteks(te)

1 PETRUS 1

Die lewende hoop en die egte geloof

3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop 4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. 5En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. 6Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. 8-9Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

1 PETRUS 1:3-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hoop is ’n goue draad wat verlede, hede en toekoms aanmekaar weef.

Die vroue wat in die konsentrasiekampe in Duitsland gevange gehou is, moes bedags paaie bou. Hulle het nie skoene gehad nie, hul hande was hul grawe en die voue van hul rokke die kruiwaens waarmee die grond verskuif moes word. In hierdie onleefbare omstandighede het hulle daagliks verby ’n huisie geloop met ’n balkon waarop die mooiste rooi en geel blommetjies geplant was. Om hierdie kleurvolle blommetjies te sien, was hul hoogtepunt wanneer hulle daagliks heen en weer verby moes stap. Hulle moes betyds wees om dit te sien voor dit toegaan met sonsondergang. Dit het vir hulle hoop gegee dat daar iets is wat sin aan hul bestaan gebring het.

Almal van ons het iets nodig om aan vas te hou wanneer omstandighede ondraaglik is. Maar dit waaraan ons vashou, is baie maal verganklik en van korte duur. Die Petrusbrief getuig oor hoop wat nie aan tydelike, aardse dinge gekoppel is nie. Die skrywer praat van God, wat in sy onverganklike liefde vir ons die nuwe lewe gebring het deur Christus se opstanding. As gevolg daarvan het ons die lewende hoop op die erfenis wat in die hemel vir ons wag.

Die hoop op God se beloftes wat waar gaan word, dra ons deur die lewe. Wanneer ons terugkyk, sien ons sy beloftes het waar geword. Ons sien en hoor dit in die getuienis van mense in sy Woord, maar ook in ons eie lewens. En ons weet, net soos in die verlede, kan ons nou in die hede en in die onbekende toekoms met ’n lewende, vaste hoop vashou aan sy beloftes. Die belofte van ons ewige toekoms laat ons met vertroue in hierdie hede stap. Dit sal nie vergaan soos blomme nie.

Ds Manda le Roux, Weskus

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS