Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 27 Mei

God kom na ons tot die voleinding van die wêreld

Bybelteks(te)

MATTEUS 28

20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

MATTEUS 28:20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer is die einde van die tyd? Jaar na jaar sê ons dat die tyd darem al hoe vinniger verbygaan, maar ons kom tog nie by die eindtyd uit nie. Wanneer sal dit gebeur? So het Jesus se dissipels ook gevra: Here, sê tog vir ons, wanneer sal die einde van hierdie wêreld aanbreek?

Jesus het hulle mos reeds geleer en gewaarsku dat daar ’n dag van oordeel sal kom wanneer die wêreld voleindig sal word: die dag wanneer die engele mense sal oes. Die mense wat die wet van God oortree en wat ander in sonde laat val, sal in die brandende oond gegooi word. Die gelowiges, daarteenoor, sal in die koninkryk van hul Vader skitter soos die son!

Christene glo verskillende dinge oor die eindtyd, en oor sommige dinge waaroor die Bybel praat, kan ons bang en beangs wees: Kom daar dalk ’n tyd van groot verdrukking? Gaan ons deel daarvan wees, of gaan gelowiges dit gespaar wees? Wanneer gaan almal wat gesterf het, weer opstaan uit die dood? As ek veras was, hoe sal ek dit regkry? Gaan ek dan voor die regterstoel van God staan en geoordeel word oor al die dinge wat ek dalk in die geheim gesondig het? Gaan ons in die eindtyd gedwing word om die nommer 666 op ons voorkop of hand te dra, anders sal ons nie enigiets kan koop of verkoop nie?

Nie net Christene nie, maar ook die Jode en selfs die Moslems glo dat daar ’n eindtyd van oordeel kom, wanneer mense sal swaarkry. Die Jode glo dat daar daarna ’n Messias kom wat regverdig oor die mense sal regeer. En hoewel ons ons kan bekommer oor die wanneer en hoe daarvan, verseker Jesus ons dat Hy ons deur dit alles nie sal verlaat nie – Hy sal by ons bly tot die voleinding van die wêreld! Ons hoef nie beangs en bang te raak daaroor nie, want Hy sal by ons wees en bly! Die Messias het al gekom!

Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS