Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 28 Julie

Die gevare van aannames

Bybelteks(te)

JOSUA 22

Die gedenkaltaar by die Jordaan

9Die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam is toe van die Israeliete in Silo in Kanaän af weg om na Gilead toe te gaan, na hulle eie gebied wat in besit geneem is op die bevel van die Here deur Moses. 10Toe hulle by Gelilot aan die Jordaan in Kanaän kom, bou hulle daar by die Jordaan 'n altaar, 'n groot indrukwekkende altaar.

11Die Israeliete het gehoor dat die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam die altaar gebou het en dat dit teenaan Kanaän by Gelilot aan die Jordaan was, aan die Israeliete se kant. 12Toe het die hele Israelitiese volksvergadering in Silo bymekaargekom, gereed om oorlog te maak teen die twee stamme en die halwe stam. 13Die Israeliete het vir Pinehas seun van die priester Eleasar na die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam in Gilead gestuur. 14Saam met Pinehas was daar tien volksleiers, een vir elke stam van Israel, elkeen 'n hoof van 'n Israelitiese familiegroep. 15Toe hulle by die stamme in Gilead kom, sê hulle vir die stamme: 16“So sê die hele volksvergadering van die Here: Hoe kon julle dié daad van ontrou begaan teen die God van Israel? Julle het mos nou die Here verlaat toe julle die altaar gebou het! Julle is nou in verset teen Hom! 17Was ons sonde by Peor nie erg genoeg nie? Tot vandag toe is ons nie daarvan gereinig nie, ten spyte van die plaag wat die volk van die Here getref het. 18Vandag verlaat julle die Here en kom julle in verset teen Hom, môre breek sy toorn los teen die hele Israel. 19As julle gebied onrein is, kom oor na die Here se eie gebied toe waar sy tabernakel staan, en vat vir julle 'n gebied tussen ons. Maar moenie in verset kom teen die Here en teen ons deur vir julle 'n altaar te bou bo en behalwe die altaar van die Here ons God nie. 20Akan seun van Serag was ontrou met wat aan die Here gewy was, en die toorn het teen die hele Israel losgebreek. Nie net hy het vir sy sonde gesterf nie.”

21Die mense van Ruben, Gad en die halwe Manassestam het vir die hoofde van die Israelitiese familiegroep gesê: 22“Die Here alleen is God, die Here alleen is God! Hy weet, en Israel moet weet: as dit in verset en ontrou teen die Here was, dan moet julle ons vandag nie spaar nie. 23Of ons vir ons 'n altaar gebou het om die Here te verlaat en daarop brandoffers, graanoffers en maaltydoffers te bring, dit sal die Here self vasstel. 24Nee, dit was uit kommer dat ons dit gedoen het. Ons het gedink môre-oormôre sê julle nageslag dalk vir ons s'n: ‘Wat het julle te doen met die Here die God van Israel? 25Die Here het 'n grens gestel tussen ons en julle, die Jordaan. Julle het nie 'n deel in die Here nie!’ So sou julle nageslag ons s'n kon verhinder om die Here te dien. 26Ons het toe gedink ons moet vir ons die altaar bou, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie, 27maar as 'n getuie tussen ons en julle en tussen ons nageslagte, dat ons die diens aan die Here by sy heiligdom sal uitvoer met ons brandoffers, ons ander diereoffers en ons maaltydoffers, en dat julle nageslag nie later vir ons s'n sal sê: ‘Julle het nie 'n deel in die Here nie.’

28“Ons het gedink as hulle dit later vir ons of ons nageslag sou sê, sou ons nageslag kon sê: ‘Kyk die model van die Here se altaar. Ons voorvaders het dit gemaak, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie, maar as 'n getuie tussen ons en julle.’ 29Ons dink glad nie daaraan om teen die Here in verset te kom en Hom te verlaat deur 'n altaar te bou vir brandoffers, graanoffers en ander diereoffers bo en behalwe die altaar van die Here ons God voor sy tabernakel nie.”

30Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering en die Israelitiese familiehoofde wat by hom was, hoor wat die mense uit Ruben, Gad en Manasse sê, was hulle tevrede. 31Pinehas seun van die priester Eleasar het vir die mense van Ruben, Gad en Manasse gesê: “Ons weet nou die Here is by ons; julle was nie ontrou aan die Here nie; julle het Israel aan die straf van die Here laat ontkom.”

32Pinehas seun van die priester Eleasar en die volksleiers is toe terug van die mense van Ruben en Gad af uit Gilead na Kanaän, na die Israeliete toe en het verslag gedoen. 33Die Israeliete was tevrede en het God geprys. Hulle het afgesien van die plan om die mense van Ruben en Gad te gaan aanval en die gebied waar hulle woon, te verwoes. 34Die mense van Ruben en Gad het die altaar 'n naam gegee, en gesê: “Hy is die getuie tussen ons dat die Here God is.”

JOSUA 22:9-34AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit is riskant om aannames te maak sonder dat ons die volle prentjie kan sien. Ons heg betekenis aan dit wat ons sien en hoor vanuit ons eie perspektief en realiteit, en kom dan dikwels tot foutiewe gevolgtrekkings. Lees gerus ook wat sê Spreuke 18: 13 en 25: 8 hieroor.

Ek hoor van die vrou wat iewers ry en skielik moet uitswaai vir ’n motor wat roekeloos van voor af heen en weer oor die pad swenk – en die bestuurder skree boonop vir haar: Vark! Sy is so onthuts oor die belediging, sy ry amper die groot pienk vark wat in die middel van die pad staan raak!

Ons tref ook in die Bybel talle voorbeelde aan van die gevare van gevolgtrekkings sonder al die feite. In Josua 22 lees ons dat die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam by die Jordaanrivier ’n groot en indrukwekkende altaar bou. Maar die Israelitiese volksvergadering by Silo was nie beïndruk nie, want hulle neem aan dit is ’n afgodsaltaar en besluit om oorlog te maak teen die twee stamme en die halwe stam. Dit het mooipraat gekos om hulle te oortuig dat die altaar gebou is om die nageslag aan die Here God se trou te herinner!

Dit sou ook nie baie wys wees om aannames te maak oor die uitkoms van die geveg tussen ’n jong seun met net ’n paar klippies en ’n vreesaanjaende reus nie.

In Johannes 1:46 kry ons die vraag: Kan iets goeds uit Nasaret kom? En toe is dit die enigste plek waaruit ooit regtig iets goeds gekom het!

Later het die dissipels gedink dat hulle presies weet wat hulle by die graf gaan aantref op daardie Sondag. Hulle kon nie meer verkeerd wees nie.

Ons het nog nie die laaste hoofstuk van ons lewensverhaal gelees nie. Ons moenie altyd die ergste verwag nie. Al wat ons met sekerheid kan aanneem, is dat God ons lief het en ons altyd sal beskerm. God spesialiseer in die ondenkbare en skynbaar onafwendbare.

Dr Johan van Staden, Sionspoort

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS