Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 27 Julie

Arende vang nie vlieë nie

Bybelteks(te)

MATTEUS 23

Jesus veroordeel huigelary

13“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle sluit die deur van die koninkryk in die mense se gesig toe. Julle gaan self nie in nie, en julle verhinder dié wat wel wil ingaan.

15“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle trek oor see en land rond om een bekeerling te maak, en as hy dit word, maak julle hom twee maal so ryp vir die hel as wat julle self is.

16“Ellende wag vir julle, julle wat ander wil lei en self blind is. Julle sê: ‘As iemand by die tempel 'n eed aflê, is hy nie aan sy eed gebind nie, maar as hy by die goud van die tempel 'n eed aflê, moet hy die eed nakom.’ 17Blinde dwase! Wat is belangriker: die goud of die tempel waardeur die goud geheilig word? 18Julle sê ook: ‘As iemand by die altaar 'n eed aflê, is hy nie aan sy eed gebind nie, maar as hy by die offergawe bo-op die altaar 'n eed aflê, moet hy die eed nakom.’ 19Julle blindes! Wat is belangriker: die offergawe of die altaar waardeur die offergawe geheilig word? 20Wie by die altaar 'n eed aflê, lê 'n eed af by die altaar en by alles wat daarop is. 21Wie by die tempel 'n eed aflê, lê 'n eed af by die tempel en by God wat daarin woon. 22En wie by die hemel 'n eed aflê, lê 'n eed af by die troon van God en by God wat daarop sit.

23“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie. 24Blinde leiers! Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk die kameel in.

25“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binne is hulle vol hebsug en onmatigheid. 26Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon wees.

27“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is. 28So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.”

MATTEUS 23:13-28AFR83Maak oop in die Bybelleser

In dispute met sy opponente moes Jesus gereeld op die een strikvraag na die ander antwoord – alles pogings om getuienis teen Hom in te win. In Matteus 22 lees ons van ’n vraag oor belasting om Hom by die Romeinse owerheid in die moeilikheid te bring, en ook vrae oor die opstanding uit die dood en die grootste gebod. Meesterlik systap Hy al die pogings en snoer Hy keer op keer hul monde.

En dan, in Matteus 23, spreek Jesus die skrifgeleerdes en Fariseërs skerp aan en sê Hy in vers 24: Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk die kameel in. Daar is nou ’n lekker manier om te sê dat jy so fokus op die klein dingetjies dat jy die groot goed miskyk!

Jesus het dit teen die klomp huigelaars wat baie getrou tiendes gee van kruisement, anys en koljander, maar dan skeep hulle geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid heeltemal af – dit wat juis die belangrikste is. Om ’n muggie in te sluk, was teen die reinheidswette wat die Fariseërs slaafs nagevolg het. Hulle het daarom hul water noukeurig gesif. Maar hul harte het veel minder aandag gekry as hul wette.

Sê die Woord dan nie dat God vir alles wat klein is sorg sodat ons op die koninkryk kan fokus nie? Dit beteken nie dat ons nie op klein maar belangrike dinge moet fokus nie, dit gaan hier oor die klein onbenullige dingetjies. Al daardie beuselagtighede waaroor ons so kibbel, is eintlik so nietig – dis muggies. Is daardie goed waaroor ek ’n wrok koester regtig so belangrik?

Daar is ’n mooi gesegde: Arende vang nie vlieë nie. Soos ’n arend moet ons bo die omstandighede uitstyg om die groter prentjie te kan raaksien, in plaas daarvan om soos hoenders heeltyd pitte op die grond te soek. Kyk met die geloofsoog en sien veel meer! Kom ons fokus weer op die dinge wat regtig saak maak – dalk sien ons dan ook seëninge raak wat ons nog altyd misgekyk het.

Dr Johan van Staden, Sionspoort

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS