Dagboek 2021 – 29 Julie
Raak ontslae van skuldgevoelens
Bybelteks(te)
HEBREËRS 9
Die aardse heiligdom en sy offers
Arthur Conan Doyle skryf hoe hy eenmaal vyf vriende ’n poets gebak het en ’n anonieme briefie in elkeen se posbus geplaas het met die woorde: Alles is op die lappe, maak dat jy wegkom! Die volgende dag het al vyf die hasepad gekies!
Het jy dalk ook ’n skuldige gewete? Aanvaar dan verantwoordelikheid en, as dit moontlik is, maak reg wat verbrou is. Maar daar is natuurlik ook ’n kans dat ons heeltemal onnodig swaar dra aan skuldgevoelens. Skuldgevoelens is ’n gevoel van selfoordeel wat selfs tot selfhaat aanleiding kan gee. Dit skep ’n ongesonde toestand van vyandigheid teenoor onsself. Ons selfbeeld bereik ’n nuwe laagtepunt en ons voel mismoedig en neerslagtig, leeg en hol, sonder innerlike vrede. Ons hou boek van die kwaad, my eie kwaad. Dit beroof ons van vrede, geluk en vryheid.
In Psalm 103 lees ons: So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.
Maar wat as skuldgevoelens nie ’n identifiseerbare oorsaak het nie, as dit net ’n vae gevoel van ongemak is en jy nie seker is wat dit veroorsaak het nie? Soms laat ander mense jou so voel. Moet hulle nie toelaat nie – ons is nie hier om ander mense te behaag nie. Maar soms is dit nie ander se skuld nie, jy laat jouself so voel. Jy kasty jouself elke dag daaroor. Om skuldig te voel, kan ’n lewenslange las word wat ons stroop van alle lewensgenot. Ons vryf gedurig sout in ons eie wonde.
Die skrywer van die Hebreërs-brief sê in hoofstuk 9, nadat hy gehandel het met oppervlakkige en uiterlike pogings om te ontkom aan die gevolge van ’n skuldige gewete: Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry!
Aangesien skuldgevoelens jou in vyandskap met jouself bring, moet jy vrede maak met jouself. Hys die wit vlag vir jouself, vergewe jouself – God het dit lankal gedoen. Aanvaar jouself en lewe dan weer. Lewe vry en in vrede – en uiteindelik tevrede.
Dr Johan van Staden, Sionspoort