Dagboek 2021 – 26 November
Jesus se voorspelling oor die eindtyd
Bybelteks(te)
MARKUS 13
Die profetiese rede: die tempel sal afgebreek word
(Matt. 24:1-2; Luk. 21:5-6)
Die profetiese rede: rampe en vervolging
(Matt. 24:3-14; Luk. 21:7-19)
Die profetiese rede: die groot verdrukking
(Matt. 24:15-28; Luk. 21:20-24)
Die profetiese rede: die koms van die Seun van die mens
(Matt. 24:29-31; Luk. 21:25-28)
Die profetiese rede: die voorbeeld van die vyeboom
(Matt. 24:32-35; Luk. 21:29-33)
Die profetiese rede: die dag en uur van die wederkoms
(Matt. 24:36-44; Luk. 21:34-36)
Met die Covid-19-pandemie het mense weer voorspel dat die eindtyd naby is. Dit gebeur met elke pandemie, natuurramp, na elke oorlogstydperk en selfs met eeuwisselinge. Markus 13, saam met ’n paar ander gedeeltes, word verkeerdelik ingespan om mense bang te maak oor die eindtyd of oor wanneer Christus weer gaan kom.
In hoofstuk 13 lees ons Jesus se gesprek met sy dissipels wat handel oor die eindtyd en sy wederkoms. In sy voorspellings praat Hy van dinge wat oor verskillende tydperke in die toekoms gaan afspeel. Hy verwys na die tempel wat afgebreek gaan word (ons weet dit het in 70 nC gebeur). Die gruwel in God se oë is waarskynlik die ontheiliging van die tempel deur keisers wat afbeeldings van hulself in die tempel plaas vir aanbidding. Dan praat Hy van verskillende dinge wat gaan gebeur, soos oorloë, hongersnood, verdrukking, rampe, vals profete, ensomeer. Hierdie is gebeure wat reeds in hul tyd plaasgevind het, dinge wat eintlik deur die loop van die geskiedenis gebeur het en steeds gebeur. Dit is alles deel van die tussentyd – die tyd tussen Christus se eerste koms en sy wederkoms.
Wat belangrik is om te hoor, is dít: Dit is alles deel van ons tydelike, verganklike wêreld. Op die vraag oor wanneer die wederkoms gaan plaasvind, antwoord Jesus duidelik dat niemand die dag en datum ken nie, behalwe God. Nie Jesus of die engele ken die datum nie – ook nie die vals profete van ons tyd nie.
Jesus sluit die gedeelte af met die waarskuwing dat sy wederkoms onverwags gaan plaasvind. Soos die verandering sigbaar is by ’n vyeboom en dit die koms van die somer aankondig, so moet hierdie tekens ons op ons tone hou! Die laaste voorbeeld handel oor sy wederkoms, en Hy gebruik die beeld van ’n huiseienaar wat enige tyd na sy huis kan terugkeer. Dit is nie ’n bangmaakstorie nie, eerder ’n oproep om met die verwagting te leef van Christus se wederkoms wat enige tyd kan plaasvind.
Wees gereed vir sy wederkoms.
Ds Manda le Roux, Weskus