Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 25 November

As jy vir Jesus lief is, sal jy sy opdragte uitvoer

Bybelteks(te)

JOHANNES 14

Die Heilige Gees sal by julle bly

15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

18“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19Nog net 'n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.

21“Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.”

22Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?”

23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s'n wat My gestuur het.

25“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. 28Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is. 29En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur. 30Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêreld is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie, 31maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het.

“Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”

JOHANNES 14:15-31AFR83Maak oop in die Bybelleser

In ’n emosioneel deurmekaar tyd praat Jesus met sy dissipels oor sy weggaan. Hulle worstel met hul emosies, en dan sê Hy as hulle Hom liefhet, sal hulle sy opdragte uitvoer. Hy sê weer vir hulle dat Hy weggaan, maar Hy kom ook weer terug. In hierdie wagtyd gaan daar ’n paar dinge gebeur. Hy los hulle nie alleen soos weeskinders, weerloos en uitgelewer nie. Hy gee sy Gees vir hulle om hulle toe te rus en te versterk. Die Gees is ook hul voorspraak by God. Daarmee saam ontvang hulle ook die gawe van sy andersoortige vrede.

Hierdie is ’n vinnige afskeidsgesprek waarin Jesus so baie met sy dissipels moet deel. Die tyd raak min voordat Hy oorgelewer gaan word, maar hulle moet hoor. Hulle moet sy opdragte uitvoer. Sy opdrag was dat hulle moet uitgaan en die evangelie gaan verkondig, sodat God verheerlik kan word.

In ons eie woorde gesê, vertroos Hy hulle met die volgende gedagtes: Luister, julle is nie alleen nie. God is by julle deur sy Gees wat julle sal versterk. Die Gees sal julle alles leer wat julle moet weet. Saam met die Gees gee Hy vir julle innerlike, Goddelike vrede. Julle verstaan nie nou nie, maar luister en wees gehoorsaam omdat julle My liefhet. As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem. Onthou, Ek kom weer.

Wanneer ons nou ook wag vir sy wederkoms, kan hierdie gesprek ook God se gesprek met jou wees. Jy hoef nie so alleen te voel nie, God is deur sy Gees by jou. Pak die lewe aan, bewus van sy vrede wat Hy vir jou gegee het. Laat sy Gees jou lei en sy vrede jou op jou pad vul. Sorg ook dat jy ’n luisterende hart het om te kan hoor (lees) wat sy opdragte en woorde is. As jy Hom liefhet, sal jou lewe dit wys in die uitvoer van sy opdragte – tot eer van God.

Ds Manda le Roux, Weskus

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS