Dagboek 2021 – 26 Desember
Welwillend – waarom?
Bybelteks(te)
LUKAS 2
Die skaapwagters en die engele
Die dag ná Kersdag staan bekend as Welwillendheidsdag. Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal lig die woord welwillend toe met die volgende woorde: goedgesind, vriendelik en tegemoetkomend. Ek glo dat ons almal goed verstaan waaroor dit hier gaan. Die vraag wat ons ons egter moet afvra, is: Waarom moet ons welwillend wees? Is dit omdat daar gedurende die Kerstyd so ’n algemene gevoel van vrede en goedvoel was, of is daar ’n ander rede?
Natuurlik gaan die gevoel wat tydens die Kerstyd so aanvoelbaar was, ons as Christene ook raak. Maar vir ons is daar beslis ook ’n ander, dieper rede. In ons Skrifgedeelte het ons gelees dat die engel aangekondig het dat hy ’n goeie tyding van groot blydskap bring wat vir die hele volk bestem is. Die goeie tyding is dat die Verlosser wat mense van hul sondeskuld sou loskoop, gebore is. En as die menigte engele later die grootheid van God besing, hoor ons dat God die groot geskenk gee sonder dat enigiemand dit van Hom kan eis of kan verdien. Hy doen dit uit liefde en genade.
Johannes het dit in sy weergawe van die gebeure treffend gestel en gesê dat God die wêreld so ontsaglik liefhet, dat Hy nie kon toekyk dat die mensdom in sondeverlorenheid vergaan nie. Daarom gee Hy uit liefde sy Seun as offer om die mense te verlos. Die Kersgebeure staan dus in die helder lig van God se onverstaanbare genade en oneindige liefde: van sy welwillendheid teenoor ons.
Dit is juis hierdie liefde en genade wat ons in beweging moet bring en ons moet dryf om op ons beurt met liefde goedgesind, vriendelik en welwillend teenoor almal om ons te wees. Dit gaan dus om baie meer as net so ’n algemene gevoel van vreugde. Ons word eerder só deur God se liefde aangegryp dat ons nie anders kan nie as om ook welwillend te wees, en dan nie net vir een dag nie, maar ons lewe lank.
Ds Pieter Smith, Emeritus