Dagboek 2021 – 27 Desember
Kersdag is verby – wat nou?
Bybelteks(te)
LUKAS 2
Simeon en Anna by die tempel
In die Kerk het ons die gebruik om gedurende die tyd ná Kersfees ’n slag behoorlik na te dink oor hoe Jesus se verskyning op aarde ons raak. Ons praat van Epifanie, wat sigbaar word beteken. God het sigbaar deur sy Seun in ons stukkende en siek wêreld ingetree om ons te verlos. Dít behoort ons ten diepste te raak.
Ons het gelees hoe die koms van Jesus Christus die ou Simeon, ’n gelowige man van Jerusalem, eeue gelede aangeraak het. Jesus se ouers het hul Kindjie na die tempel in Jerusalem geneem om dit wat die wet voorgeskryf het, na te kom. Daar ontmoet Simeon hulle, en hy sê iets merkwaardig.
Nadat hy God geprys het, sê hy dat hy nou gereed is om te sterf, want hy het nou vrede in sy hart. Hy het, soos baie ander gelowiges van sy tyd, verwag dat God die Verlosser sou stuur, en nou het dit gebeur. Deur sy Gees het God Simeon verseker dat die Kindjie die Een is wat moes kom om die mensdom se sondeskuld weg te neem. Simeon glo dit so onwrikbaar dat dit hom vrede laat beleef, want hy glo dat ook sy saak met God nou reg is.
Wanneer ons God die kans gee om deur sy Woord en sy Gees in ons te werk, sal ons ook iets van hierdie vrede kan beleef. Dit is nie ’n vrede omdat alles op aarde skielik net reg geword het nie. Dit is in elk geval nie moontlik nie. Maar die vrede wat ou Simeon beleef het en wat ons ook kan beleef, is ’n geskenk van God. Dit laat ons rustig wees en vrede ervaar ten spyte van alles, goed en sleg, wat om ons en met ons gebeur. Dit is die vrede wat oor ons kom omdat ons vas glo dat Jesus Christus ook ons saak met God reggemaak het.
Die Kersgebeure verseker ons dat God se belofte van Verlossing waar geword het.
Ds Pieter Smith, Emeritus