Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 25 Desember

Opgewonde – waaroor?

Bybelteks(te)

LUKAS 2

Die geboorte van Jesus

1In daardie tyd het keiser Augustus 'n bevel uitgevaardig dat 'n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. 2Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. 3Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe.

4Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. 5Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. 6Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. 7Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

Dit is Kersdag en van vroeg af hoor ons hoe mense mekaar ’n geseënde Kersfees toewens. Familie bel mekaar van oral – selfs van oorsee af. Daar heers vreugde en ’n gevoel van vrede, want die mooi toneel van die stal van Betlehem is aangrypend.

Tog is dit nie die volle waarheid van die Kersgebeure nie. As dit vir ons net gaan om ’n fraai toneeltjie van trotse ouers, ’n brose babatjie, skaapwagters en sterrekykers met geskenke, is dit soos ’n outydse Kerskaartjie wat ’n mens maklik ná die tyd weg kan bêre en van kan vergeet. Ons moet verder kyk en ook een van die eerste skaduwees wat op die toneeltjie val, raaksien en in ag neem.

Jesus se ouers moes tevrede wees om hul eerstelingkind in ’n nederige stal te verwelkom. Daar was nie vir hulle plek in ’n behoorlike herberg nie, wat nog gepraat van ’n paleis soos dit die Koningskind betaam. Dit sou kenmerkend word van Jesus se hele aardse lewe. Hy het nie gekom om in gemak en weelde te leef nie, maar om in eenvoud en gehoorsaamheid te kom diens lewer, totdat dit ook sy lewe gevra het.

Dit is eers wanneer ons die aardse geboorte van Jesus Christus teen hierdie agtergrond verstaan, dat dit vir ons ’n betekenis kry waarvan ’n mens nie maklik kan vergeet nie, maar wat jou so aangryp dat dit jou lewe kom verander. Kersdag, hoe mooi en wonderlik dit ook al is, is slegs die begin van ’n pad wat op die kruis van Golgota en die leë graf sou uitloop.

Kersdag staan in die lig van God wat ons so liefhet dat Hy in die wêreld wat ons opgemors het, ingegryp het om ons te verlos. Kersdag staan in die lig van God wat ons so liefhet dat Hy sy eie Seun geskenk het om dit te doen. Teen dié agtergrond kry Kersfees sy regte betekenis.

Ds Pieter Smith, Emeritus

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS