Dagboek 2021 – 24 Desember
Opgewonde – waaroor?
Bybelteks(te)
LUKAS 1
Die loflied van Maria
Dit is Oukersdag en ’n mens kan die opgewonde afwagting aanvoel. Tydens die afgelope Adventtyd het ons ons voorberei om op Kersdag die aardse geboorte van Jesus Christus te herdenk. En nou staan ons op die vooraand daarvan. Kindertjies is opgewonde oor geskenkies en Kersliggies; ouers geniet die kleingoed se vreugde; grootouers geniet dit om die “groot dae” saam met geliefdes te kan deurbring.
Dit is alles goed en wel om al dié dinge te geniet, maar dit sal tog ook goed wees om iets uit Maria se loflied te leer. Ons kan die hoofsaak van haar lied in enkele woorde vasvat: nederige verwondering en dankbaarheid.
Maria is by haar familielid, Elisabet, wat haar so pas met ’n seënwens gegroet het. Maria reageer met haar pragtige loflied. By haar is daar geen sprake van trots of selfvoldaanheid nie. Al het Elisabet gesê dat Maria geseënd is en dat dit ’n voorreg is dat Maria haar besoek, is daar by Maria net nederige verwondering en groot dankbaarheid.
God het haar, ’n eenvoudige en nederige jong vrou, in sy groot genade en liefde raakgesien. God het, ten spyte daarvan dat sy dit op geen manier kon verdien nie, besluit om sy verlossingswerk deur Jesus, deur haar te laat gestalte kry. Die wonder wat ons lewens vir altyd sou verander, begin wanneer ’n eenvoudige, nederige mens deur God gebruik word.
Wanneer ons môre die aardse geboorte van ons Here Jesus Christus herdenk, moet ons dit met dieselfde gesindheid doen. Ons wat niks verdien nie, ons wat gering is, is deur God uitverkies om die wonderlike nuus van sy groot liefde te hoor, te glo, die vreugde daarvan te beleef en dit te mag oorvertel. Ja, ons mag weet, glo en oorvertel dat God ons só liefhet dat Hy ons deur sy Seun verlos het en vir ewig na Hom toe aantrek.
Ds Pieter Smith, Emeritus