Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 24 Junie

Die krag van ’n lewende hoop

Bybelteks(te)

1 PETRUS 1

Die lewende hoop en die egte geloof

3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop 4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. 5En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. 6Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. 8-9Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

1 PETRUS 1:3-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

By die dood van ’n geliefde verander niks in terme van tyd nie. Daar is nog steeds 60 sekondes in ’n minuut. Tog voel dit asof daar ’n verposing is – ’n dubbele asemteug, of dalk ’n snik, wanneer ons dink aan alles wat in die gang van ’n lewe gewen of verloor is; aan wat kon gebeur het; aan dinge waarop mense trots is, maar ook dinge waaroor mense hulle skaam. Dit is jammer dat daar nie meer tyd is vir bestek opneem nie. Ons almal sal daarby baat om gereeld ons lewe in oënskou te neem en na te dink oor alles wat werklik belangrik is.

Voorspoed laat ’n mens nogal nie daardie vraag vra nie. Voorspoed is ’n soet vergryp, ’n gulsige vraat en ’n dolle vaart. Nee, dit is dikwels swaarkry en verlies wat alles in balans bring en reliëf gee aan dit wat kosbaar en goed is, dit wat vreugde bring, die handvol lekkerte wat soos edelstene in die donkerste plekke flonker en blink om selfs in die swaar tye ’n Hosanna! uit ons harte los te wikkel.

Petrus het net die Woord om die gelowiges mee te troos en te bemoedig. In die aangesig van vervolging en lewensbedreiging lyk dit bitter min, té min. Maar hy bied dit aan sonder skroom, want dit gaan nie hier om filosofieë en idees nie, maar om geloof in ’n werklikheid wat deur God voorberei is en gewaarborg word.

In ’n tyd en wêreld waarin dit voel asof alles waarvoor ons staan in die smeltkroes is, moet ons onthou wat ons het: ’n onverganklike, onbesmette, onverwelklike erfenis wat reeds aan ons toegesê is en vir ons in bewaring gehou word. Daarom gee ons nie toe aan moedeloosheid nie; laat ons ons nie mislei deur die soet vergryp van begeerte nie; skaal ons nie af aan ons toewyding in die geloof nie. Nee, ons klou vas aan die lewende hoop. Dit is ’n krag wat ons nie net laat uithou nie, maar ons vervul met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

Dr Piet van Staden, Emeritus/Stellenbosch/Worcester

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS