Dagboek 2021 – 23 Junie
Getoets deur lyding
Bybelteks(te)
JOB 3
Job se drie vriende, Elifas, Bildad en Sofar, het gehoor van sy rampe en kom om hom te ondersteun. Toe hulle hom sien, het hulle begin huil en by hom kom sit, sewe dae en nagte lank in stilte.
Wat gebeur in hierdie tyd met Job? Uit die reaksie van ander mense besef hy dat hy ly. Waar hy eers gedink het om maar net aan te gaan so goed hy kon, begin hy nou protesteer. Hy vervloek sy geboortedag en wens dat daardie dag uit God se kalender kon verdwyn het. Die swaar wat hy nou ly, maak al die vreugde van sy lewe tot nou toe tot niet. Hy moes eerder by geboorte gesterf het, dan het hy nie nou so gely nie.
Hy fokus op sy lyding, en omdat hy daarop fokus, raak die res van sy lewe en al die mooi dinge uit fokus uit. Nou begin die geloofstwyfel en vrae: Waarom het God toegelaat dat hy gebore word net om hom so swaar te laat kry dat hy verlang na die dood? Waarom tref al die rampe hom? Dit waarvoor hy bang was, het nou met hom gebeur, en hy het geen rus of vrede meer nie, net angs.
Job het aanvanklik sy lot aanvaar met gelowige gelatenheid. Toe kom ander mense en vertel hom hoe swaar hy eintlik kry. Net daar verval hy in ’n geloofskrisis. Daar is vir ons ’n les daarin: Swaarkry in al sy vorme is deel van die lewe. Dit kom en dit gaan verby, meestal in hierdie lewe. Soms maak die dood ’n einde aan ons swaarkry. Maar lyding kan ons nie skei van God nie, tensy ons toelaat dat dit gebeur. Jesus sê self: Moenie so op jou swaarkry fokus dat die vreugdes in jou lewe uit fokus raak nie. Hanteer katastrofes en rampspoed vir wat dit is – geleenthede om nader aan die Here te beweeg.
Mag die Here ons almal bewaar van kwaad, en as die teenspoed wel kom, mag ons vind dat Hy ons deur alles dra. Dan kom die vrede.
Dr Piet van Staden, Emeritus/Stellenbosch/Worcester