Dagboek 2021 – 25 Junie
God se Gees maak lewend
Bybelteks(te)
ESEGIËL 37
Ek sal julle terugbring
Dit is baie keer eers wanneer ons op die laagste punt in ons lewe is dat ons die krag van God se Gees die beste ervaar. Jesus Christus het ons immers geleer: Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Ons onthou ook Paulus se bekende woorde: As ek swak is, is ek sterk.
Die profeet Esegiël beleef ’n geestelike laagtepunt. Hy ervaar dat hy in ’n laagte vol geraamtes is. Die hele prentjie spreek van doodsheid en hopeloosheid. Dit is simbolies van die volk Israel in ballingskap. Hulle het moed verloor. Soms voel ons ook so. Ons het nie meer lus om te lewe nie. Ons sien nie kans vir wat voorlê nie. Die hartseer oorweldig ons. Ons voel geestelik gedreineer.
In die teksgedeelte wys die Here vir die profeet ’n situasie wat op die oog af onmoontlik lyk en vra van hom om iets te doen wat heeltemal onlogies klink. Hy moet as profeet optree en met die dooie bene praat. God betrek dus vir Esegiël. God doen wonders waar ek en jy voortgaan met ons verantwoordelikhede as kinders van die Here, al lyk dinge rondom ons ook hoe benard.
Hoe tree ons as kinders van die Here op in uitsiglose situasies? Nie deur ons te onttrek en boedel oor te gee nie, maar deur voort te gaan met ons verantwoordelikhede as kinders van die Here. God se Gees woon nou in ons en maak ons lewend. Dit bring ons weer in beweging. Dit maak van ons nuwe mense wat op ’n nuwe manier begin leef en optree. Wanneer ons leef met vergifnis, deernis en lydsaamheid, laat God uiteindelik wonders gebeur. Daar is hoop. God se uitkoms is meer en kom op ander maniere as wat ons verwag.
Dr Gerhard Lindeque, Bybelgenootskap van Suid-Afrika