Dagboek 2021 – 23 Desember
Wat is geloof?
Bybelteks(te)
MATTEUS 15
Die Kanaänitiese vrou
Jesus maak baie siekes gesond
Wat presies is geloof? Is dit ’n gevoel, ’n rotsvaste sekerheid, of oor watter eienskappe moet jy beskik om ’n “groot geloof” te hê? Hierdie vrou het na Jesus gekom en gevra dat Hy haar moet help. Maar Hy het haar niks geantwoord nie. Haar geloof bestaan uit ’n gesprek met Jesus, maar daar is ’n stilte. Sou alles wat sy van Hom gehoor het, bedrieglik kon wees? Só begin elke geloof. Jy moet dit waag om na Jesus te kom selfs met die risiko om teleurgestel te word. Hierdie vrou het die grens oorgesteek en só binne die sfeer van Jesus se seëninge gekom.
Jy moet ook die grense van hierdie wêreld van elektroniese breine, rekenaars, selfone en rumoerige gebeure oorsteek en die stilte betree wat Jesus omring. Hierdie vrou reik uit na iets agter sy stilswye. Dat sy nie maar net laat staan het nie, lê daarin dat Jesus haar nie laat staan het nie, ten spyte van sy stilswye. Die genade van God kan ook stilbly. Ek kan dit op geen manier opeis nie. Ek het nie verdien om aan U te behoort nie. U kan verbygaan, maar sal U werklik kan, sal U dit regkry om verby te gaan by ’n mens wat alles van u liefde verwag? Sal U dit oor u hart kan kry, Jesus van Nasaret?
Weet jy wat? Jesus kan nie! Hierdie vrou het Jesus se beloftes voor sy voete neergesit, en oor hierdie beloftes kan Jesus nie tree nie. Haar geloof het nie geseëvier nie. Sy het Jesus bloot op sy woord geneem, en daarom het sy ’n groot geloof.
Hierdie treffende verhaal moet jy ook vir jouself waar maak. Jy wil Hom jou verlangende en uitgestrekte hande wys, en God wat aan sy kinders brood en nie klippe nie gee, sal ook genade bewys aan jou wat elke dag bid: Here, help my en wees my genadig, asseblief.
Ds Cornie Pieterse, Emeritus