Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 22 Junie

Gee uit die hart

Bybelteks(te)

2 KORINTIËRS 8

Die Christelike vrygewigheid

1Broers, ons wil hê julle moet weet van die genade wat die gemeentes in Masedonië van God ontvang het. 2Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid. 3Ek verseker julle hulle het na vermoë, ja, bo vermoë, bygedra. 4Uit eie beweging het hulle by ons daarop aangedring om te mag deel in die liefdeswerk van hulpverlening aan die gelowiges in Judea. 5Dit was meer as wat ons verwag het, want eers het hulle hulleself aan die Here gegee en toe aan ons. Dit is soos God dit wil.

6Daarom het ons vir Titus versoek om hierdie liefdeswerk, waarmee hy vroeër by julle begin het, nou ook te voltooi. 7Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer en ons liefde vir julle, wees dan ook in hierdie liefdeswerk oorvloedig.

8Ek gee nie 'n opdrag nie, maar ek wys julle op die ywer van ander om daardeur die opregtheid van julle liefde te toets. 9Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word.

10Nou wil ek julle net raad gee om julle te help. Julle was verlede jaar nie alleen die eerste wat iets gedoen het nie, julle was ook die eerste wat gewillig was om iets te doen. 11Maak die werk nou ook klaar. Die ywer om uit julle beskikbare middele die insameling af te handel, moet net so groot wees as die gewilligheid waarmee julle dit begin het. 12As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie.

13Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie; maar sodat daar ewewig sal wees, 14moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig. 15Daar staan ook geskrywe:

“Dié met baie, het nie te veel gehad nie, en dié met 'n bietjie,

nie te min nie.”

2 KORINTIËRS 8:1-15AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die tyd van Jesus was daar ’n godsdienshervorming, met Jesus as die hoofspeler in dié drama. Die Nuwe Testament vertel van die vroegste jare in die ontstaan en groei van die kerk. Dit was nie maklik nie. Daar aan die begin was daar baie teenstand. Die vroeë Christene het vele ontberings beleef en sommige het selfs hul lewe verloor.

Die Nuwe Testament bied vir ons inligting oor hoe alles verloop het. In die gedeelte wat ons hier gelees het, praat die apostel Paulus oor vrygewigheid of mededeelsaamheid as ’n Christelike deug. Paulus het vroeër al begin geld insamel vir die gemeente in Jerusalem wat baie swaar gekry het. Hy het die omstandighede daar geken, en het dit op hom geneem om by die res van die kerk te kollekteer om die Christene in Jerusalem te help.

Dit blyk dat die Korintiërgemeente vroeër onderneem het om ’n bydrae te maak vir hierdie saak, maar dat dit nooit uitgevoer is nie. Goeie voornemens handel nie ’n saak af nie. Dit kos toewyding en harde werk. Hy praat oor die kollekte, want dit gaan daaroor – maar eintlik praat hy oor iets groter, oor waardes en deugde wat altyd geld vir gelowige mense wat ontvangers is van die verlossing deur Jesus Christus.

Dit was vir Paulus aangrypend dat sekere gemeentes, ten spyte van hul eie haglike omstandighede, tog bereid was om te help. Hulle was brandarm, en het boonop swaar gely onder vervolging. Hy wou hulle verskoon, maar hulle het hom gesmeek om hulle toe te laat om by te dra en het uiteindelik meer gegee as waartoe hulle in staat was. Dit was egter nie die som geld wat hom beïndruk het nie, maar die gesindheid.

Die Masedoniërs, sê hy, gee vrygewig, opofferend, gewillig, heelhartig. Dié gesindheid groei uit die verbondenheid met Jesus Christus, want Hy was ryk en het ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word.

Elkeen wat aan Christus behoort,
is ryk in mededeelsaamheid –
so vertoon ons die beeld van God.

Dr Piet van Staden, Emeritus/Stellenbosch/Worcester

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS