Dagboek 2021 – 22 Desember
Môreson
Bybelteks(te)
LUKAS 1
Die loflied van Sagaria
Hierdie Adventsgeskiedenis vertel hoe ’n vurige wens wat Sagaria dekades lank gekoester het, naamlik om ’n seun te hê, vir hom ’n waarheid geword het. Innig verheug buig die ou vader oor die wiegie. Dan hef Sagaria ’n loflied aan. Sy loflied gaan glad nie oor die seuntjie nie, maar oor ’n ander Kind wat nog nie eens gebore is nie en vir wie sy eie seun Johannes net ’n voorloper sal wees. Hoewel alles nog voorlê, praat Sagaria daarvan in die verlede tyd: God het sy volk opgesoek en verlossing bewerk. Dit is ’n merkwaardige vorm van Adventsverkondiging! Die koninkryk van God is hier en nou, waar die wonder van Betlehem jou aanraak. Jy is dus letterlik verander deur die bemoeienis van God met jou.
Maar jou vraende blik is ook op ’n ander manier op die toekoms gerig, en dit is die afwagting dat die raaisel van alles wat jy nie kan oplos nie, tog opgelos moet word. Iets hiervan slaan deur in die lofsang van Sagaria. Voel die postmoderne mens nie heeltemal anders nie? Jy hou tog rekening met die feit dat die lewe soos gras is wat gou verdor. Sagaria sien meer as die droefgeestige wêreld wat verbygaan. Hy sien ’n môreson wat opkom. Uit die hoogte straal dit op ons af.
Ja, ek hoor die boodskap, maar my geloof is maar klein. Ek worstel steeds met my probleme en tye van neerslagtigheid. Wat moet ek doen sodat hierdie môreson van Adventsverwagting my ook omstraal? Dit gebeur baie dat mense geen geloof meer het nie, maar tog nie sonder mense wil wees wat wel glo nie. Dis soos met ʼn rugdraspeletjie! Dit is die gemeente wat God loof en dank terwyl ek geen geluid kan maak nie. Rondom my leef Christus in sy getuies. Tussen my en daardie donker staan Jesus Christus. Daardie Lig, daardie môreson, sal ook in die toekoms vir my as gelowige Christen skyn, want daardie Lig is Jesus Christus, my Verlosser, my Môreson.
Ds Cornie Pieterse, Emeritus