Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 21 Junie

Vergelding en vergewing

Bybelteks(te)

DEUTERONOMIUM 19

Oor getuies in 'n hofsaak

15“Daar mag nie net een persoon teen iemand getuig nie, al was die oortreding of die misdaad ook wat, al het hy ook hoe verkeerd gehandel. 'n Beskuldiging kan net bewys word deur die getuienis van twee of drie getuies.

16“Wanneer 'n kwaadwillige getuie iemand van ontrou aan die Here beskuldig, 17moet die twee mans wat in die saak betrokke is, voor die Here verskyn, voor die priesters en die regters wat aan diens is. 18Die regters moet die saak deeglik ondersoek en as dit blyk dat die persoon wat sy volksgenoot beskuldig het, 'n vals getuie is, 19moet julle hom aandoen wat hy sy volksgenoot wou aandoen. So moet hierdie soort kwaad tussen julle uitgeroei word. 20Die ander mense sal daarvan hoor en bang word en hierdie soort verkeerde ding sal nie weer tussen julle voorkom nie. 21Jy mag so 'n persoon nie genade betoon nie: 'n lewe vir 'n lewe, 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand, 'n hand vir 'n hand en 'n voet vir 'n voet.”

DEUTERONOMIUM 19:15-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

MATTEUS 5

Vergelding

38“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘'n Oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand.’ 39Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen 'n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. 40As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. 41As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. 42Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”

MATTEUS 5:38-42AFR83Maak oop in die Bybelleser

Misdaad is nie nuut nie. Ons lees reeds in die Bybel van diewe en moordenaars. Die antieke strafstelsel werk volgens die wet van vergelding, in Latyn bekend as die lex talionis. Dit beteken die oortreder word gestraf vir sy misdaad volgens die beginsel dat wat jy aan ’n ander doen, aan jou gedoen sal word. Dit word uitgespel: As jy deur nalatige optrede of moedswillig iemand sy oog of tand kos, word jou oog uitgesteek of jou tand uitgeslaan. As jy iemand se been breek, word jou been gebreek. As jy iemand doodmaak of sy dood kos, word jy doodgemaak.

Volgens die Bybel val ware geregtigheid onder God se beheer. God se gebod is verhewe bo willekeur. Dit vorm die beginsel en die reëls waarvolgens mense van alle tye ordelik saam met mekaar kan leef. Dit is nie ’n populistiese sisteem nie. Die samelewing of die massa bepaal nie wat oortredings is, wat die gewig daarvan is en die straf wat daarop volg nie. Dit is duidelik uit die tekste dat hierdie vergeldingswet nie altyd letterlik toegepas is nie. In plaas van ’n oog of ’n tand kon ’n geldboete opgelê word wat beskou is as voldoende straf op die spesifieke oortreding.

Jesus keer die hele saak onderstebo. Julle het gehoor dat daar gesê is: “’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.” Maar Ek sê vir julle… En dan kom Hy met ’n radikaal nuwe eis: Moet jou nie verset teen iemand wat jou kwaad aandoen nie, al laat die reg dit toe. ’n Navolger van Jesus moet anders leer dink oor die werklikheid. As die samelewing getransformeer en genees moet word, kan dit alleen gebeur deur liefde, en liefde tree na vore in lydsaamheid. Kwaad word nie bestry met kwaad nie. Kwaad word omskep in iets wat opbouend en positief is, en dit word gedoen deur die goeie.

Jesus kon dit doen, en deur die geloof in Hom kan ons ook.

Dr Piet van Staden, Emeritus/Stellenbosch/Worcester

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS