Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 21 Desember

Is jy deel van God se koninkryk?

Bybelteks(te)

RUT 4

9Hierop sê Boas vir die leiers en almal teenwoordig: “Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Elimelek en Kiljon en Maglon behoort het, van Naomi gekoop het en dat 10ek ook die Moabitiese vrou Rut, die weduwee van Maglon, vir my as vrou gekry het. So sal die grond in die oorledene se familie bly en sy nagedagtenis nie vergeet word in die volkslewe nie. Ja, julle is vandag getuies.”

11Die leiers en almal wat in die stadspoort bymekaar was, het toe bevestig: “Ons is getuies. Mag die Here die vrou wat nou in jou huis inkom, soos Ragel en Lea maak wat saam gebou het aan die volk Israel. Verwerf aansien in Efrata en maak naam vir jouself in Betlehem. 12Mag die nageslag wat die Here jou uit hierdie jong vrou sal gee, wees soos dié van Peres wat deur Tamar vir Juda in die wêreld gebring is.”

13Boas het toe met Rut getrou en hy het gemeenskap met haar gehad. Die Here het haar swanger laat word, en Rut het 'n seuntjie in die wêreld gebring. 14Die vrouens sê toe vir Naomi: “Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou 'n losser gegee het. Mag die losser se naam bekend wees in Israel, 15en mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg. Jou skoondogter wat jou liefhet en wat vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring.”

16Naomi het toe die seuntjie op haar skoot gevat en as haar eie aangeneem.

17Haar buurvroue het die seuntjie toe 'n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: “'n Seun is vir Naomi gebore.”

Obed was die voorvader van Dawid.

Na die afsterwe van Rut en Orpa se mans in Moab, besluit Rut om saam met Naomi terug te gaan na Betlehem. In Betlehem sou die twee vroue ’n armoedige bestaan voer. Om aan die lewe te bly, moes hulle koringare optel. Dan verskyn daar ’n ander figuur op die toneel — die losser. Die losser was ’n familielid of naasbestaande wat as die beskermheer moes optree in tye van weduweeskap of armoede. Maar waarom eindig hierdie geskiedenis met ’n geslagsregister? Juis om hierdie geskiedenis in koninkryksperspektief te plaas. Obed was die vader van Isai, en Isai die vader van Dawid, en uit die geslag van Dawid sou die Messias gebore word.

Ja, hierdie geskiedenis van doodgewone dinge was gerig op die koms van Jesus Christus. So werk God vandag nog. Hy werk deur jou huwelik, deur die geboorte van ’n kindjie wat jy tot sy eer moet grootmaak. Hy werk deur jou elke dag se verpligtinge. Gelukkig is elkeen wat besef om ook die skynbaar nietige dinge tot eer van God te doen, om die klein dingetjies op ’n groot manier te doen.

Ons is bedoel om ’n skakel in God se koninkryksplan te wees. Dit is dalk ’n klein skakeltjie, maar God bou dikwels sy koninkryk met klein steentjies. Met gewone mense doen Hy buitengewone dinge. Met klein en nietige medewerkers verrig Hy magtige dade. God wil jou daarom ook gebruik. Om sy medewerker te wees, vereis nie buitengewone talente nie. Al wat God van jou vra, is geloof, gehoorsaamheid en gewilligheid.

Eeue later sou in dieselfde dorpie weer ’n Kindjie gebore word toe God weer lewensbrood in Betlehem gegee het. Dié dag toe Hy ’n Losser gestuur het om jou wat verkoop was aan die sonde, weer los te koop. Hy het jou losgekoop met die kosbare bloed van sy Seun, Jesus Christus. ’n Nuwe dag het vir jou aangebreek. God het ’n nuwe lied op jou lippe gegee. Saam met die vroue van Betlehem kan jy jubel: God het vir my ook ’n Losser gegee!

Ds Cornie Pieterse, Emeritus

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS