Dagboek 2021 – 20 Junie
Verterende liefde
Bybelteks(te)
JOHANNES 2
Die reiniging van die tempel
Jesus ken die mens
As Jesus die tempelplein binnestap, vind Hy ’n geroesemoes van pelgrims wat geld ruil en kibbel oor die koers; offerdiere wat opgeveil word en onderhandelings oor die prys; skape wat blêr, beeste wat bulk, duiwe wat fladder en koer in die hokke. Hy kyk na die tempelgebou self – die geweldige marmerpilare; die kapitele met uitbeeldings van die heilige kandelaar met sy sewe arms; baniere met aanhalings in Hebreeuse letters; tempelwagte wat oral rondstaan om orde te handhaaf.
Wat sien Jesus? Hy sien die inkongruensie – dáár die manjifieke, statige tempel, die huis van God, simbool van God se teenwoordigheid by en heerskappy oor die volk. Hier rondom Hom ’n raserige handeldrywery – gierige oë, gulsige hande. Kan dit wat hier afspeel, enigiets te doen hê met dit waarvan die tempel ’n simbool is? Daar moet iets groot fout wees as mense deur sulke transaksies moet gaan om by God uit te kom.
Jesus voel ’n heilige ontsteltenis. Hy verjaag die handelaars en geldwisselaars met hul skape, beeste en duiwe. Hy keer die tafels om en gooi die geld op die grond. En Hy skreeu: Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie.
Om God te eer en te dien, is nie ’n transaksie nie. Dit is ’n geestelike ontmoeting waar die mens voor God buig in dankbare erkenning vir sy liefde en genade. Dit is lofprysing. Dit is stil word voor die aangesig van die Almagtige. En dit vra eerbied vir die simbole wat heenwys na God – sy tempel, sy Woord, sy lied. Die dissipels dink onwillekeurig aan die woorde van Dawid in Psalm 69: 10 – die liefde vir u huis verteer my. Jesus se drastiese optrede spruit uit sy liefde vir sy Vader.
Hoe dink ons oor God en sy simbole soos die Bybel, die kerk, barmhartigheidswerk? Kan jy soos Dawid sê die liefde vir u huis verteer my? Kan jy Jesus se verontwaardiging aanvoel as Hy die oppervlakkigheid daar by die tempel raaksien? Deel jy dit? Mag daardie liefde vir God en sy simbole in elkeen van ons sigbaar word.
Dr Piet van Staden, Emeritus/Stellenbosch/Worcester