Dagboek 2021 – 20 Desember
Reageer ons op God se uitnodiging?
Bybelteks(te)
LUKAS 14
Die gelykenis van die groot maaltyd
Hierdie gelykenis het te doen met die koninkryk van God wat Hy eers vir Israel aangebied het, maar wat weens hul onwaardigheid nou tot die beskikking gestel is van alle mense uit wie God sy uitverkorenes vergader. Die koninkryk van die hemel kom as ’n bruilof of ’n feesmaal meermale in die Skrif voor. Die ryk belaaide tafel dien as beeld van die Here se rykdom van heil vir sy genooides. In hierdie gelykenis is dit ’n bruilofsmaal vir die seun van die koning. Wie die seun is, word nie gesê nie. Ons kan aanvaar dat Jesus Christus bedoel word. Na hierdie feesmaal word sekere persone uitgenooi, maar hulle wou nie kom nie. Allerhande verskonings word gemaak. Hul eie daaglikse belange is van groter belang. Hierdeur het hulle nie net die koning beledig nie, maar ook die saak van die grootste waarde.
Van groter betekenis is dat die feesmaal voortgaan. Omdat die eerste genooides nie wou kom nie, word almal wat deur die slaaf teëgekom word, uitgenooi: blindes, kreupeles, verlamdes, goeies en slegtes. Die onwaardiges word nou die waarderendes. Hier word die heil van God beskryf soos dit vir mense aangebied word. Israel het die eerste geleentheid gehad en hulle het geweier om dit te aanvaar. Nog erger, hulle het die Seun van God verwerp en laat kruisig. Aangesien Israel in ongeloof die heil van God verwerp het, het die feesmaal toegang verleen vir alle mense, en die uitnodiging gaan uit oor die lengte en breedte van die aarde.
Die evangelie is die uitnodiging van God wat roep tot die ewige lewe en saligheid. Vandag nog gaan die uitnodiging voort aan almal, die goeies en slegtes, en ook vandag nog staan dit vas dat wie nie gelowig gehoor gee nie, die heil van die Here sekerlik nie sal sien nie.
Hoe antwoord jy op God se uitnodiging? Bid en vra dat God jou ore sal oopmaak vir sy roepstem en jou hart ontvanklik vir sy uitnodiging.
Ds Cornie Pieterse, Emeritus