Dagboek 2021 – 20 Julie
Die Heilige Gees troos
Bybelteks(te)
2 KONINGS 6
Elisa laat 'n byl op die water dryf
Die profetegemeenskap wat naby aan die walle van die Jordaanrivier gewoon het, het ’n dilemma: Hul blyplek het te klein geword. Om die probleem op te los, besluit hulle om aanbouwerk te doen. Hiervoor is daar heelwat hout nodig. Terwyl die span manne werskaf, gebeur ’n ongeluk: Die ysterkop van ’n byl gly van die houthandvatsel af en beland in die rivier. Dit is ’n geleende byl. Wat sal die eienaar van die byl terugeis as vergoeding omdat sy byl verlore is? Watter profeet het geld om die vergoeding te betaal? Elisa, die man van God, moet help.
Elisa maak ’n plan. Hy gooi ’n stuk hout in die water en die yster-bylkop dryf op die water sodat hulle die byl kan herwin. Iemand in nood word op ’n wonderbaarlike manier deur die man van God gehelp.
Yster dryf tog nie, so wat het gebeur? Sommige verklaar dit dat Elisa met ’n stuk hout die bylkop uit die water gevis het. Die verklaring is egter onbelangrik. Die punt is, Elisa het ’n plan gemaak. ’n Mens wil amper sê, Elisa se plan was: as ’n krisis jou tref, gooi hout daarop. Was dit ook God se plan met die dilemma van die mens se sonde: As ’n krisis jou tref, gooi hout daarop? Was die houtkruis tog nie die manier hoe God die dilemma van sondeskuld aangespreek het nie? So ’n toepassing van Elisa se plan sal vir seker ’n oorspanning van die bedoeling van die vertelling in 2 Konings wees.
Tog bly Elisa se plan onlogies. Niemand sal vandag op soortgelyke wyse yster uit water wil lok nie. Werk God nie juis deur die onlogiese nie? Dit wat vir ons onmoontlik lyk, is vir God moontlik. Wonders is van God te wagte. Dit gee ons troos om te weet dat God tot meer in staat is as wat ons kan dink of droom.
Gebed
Here, dankie dat U wonderwerke vir ons troos bring. Amen.
Prof Jaco Beyers, Universiteit van Pretoria/Centurion-Oos