Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 19 Julie

Die Heilige Gees maak lewend

Bybelteks(te)

2 KONINGS 4

23“Maar waarom gaan jy vandag na hom toe,” het haar man gevra, “dit is mos nie nuwemaan of sabbat nie?”

Maar sy het hom gerusgestel, 24die donkie opgesaal en vir haar slaaf gesê: “Jaag die donkie aan. Moenie dat hy gaan staan nie, behalwe as ek vir jou so sê.”

25Sy is toe vort en het by die man van God aangekom by Karmelberg. Toe die man van God haar op 'n afstand sien aankom, sê hy vir Gehasi sy slaaf: “Dis mos die Sunemmitiese vrou daardie. 26Hardloop haar tegemoet en vra vir haar: Gaan dit goed met jou? Gaan dit goed met jou man? En met jou seun?”

Vir Gehasi het sy gesê: “Dit gaan goed,” 27maar toe sy by die man van God op die berg kom, het sy aan sy voete vasgeklou.

Toe Gehasi nader staan om haar weg te stoot, sê die man van God: “Los haar, sy is baie hartseer. Die Here het dit vir my verberg en vir my niks gesê nie.”

28Sy sê toe vir hom: “Meneer, het ek van u 'n seun gevra? Het ek nie gesê: Moenie by my 'n valse hoop wek nie?”

29Toe sê hy vir Gehasi: “Maak gou klaar, vat my kierie en vertrek. As jy iemand raakloop, moet hom nie groet nie. Gaan sit my kierie op die gesig van die seun.”

30Toe sê die seun se ma: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie toelaat om agter te bly nie.”

Hy het opgestaan en saam met haar gegaan. 31Gehasi was voor hulle daar en hy het die kierie op die seun se gesig gesit, maar daar was geen geluid of enige teken van lewe nie. Hy gaan toe terug na Elisa toe en sê vir hom dat die seun nie bygekom het nie. 32Toe Elisa in die huis kom, het die seun daar dood gelê net soos hy op die bed neergelê was. 33Elisa het die kamer binnegegaan en die deur toegemaak sodat hulle alleen was. Nadat hy tot die Here gebid het, 34het Elisa op die bed geklim en bo-op die seun gaan lê. Hy het vol op die seun gelê met sy mond op die seun se mond, sy oë op sý oë, sy hande op sý hande, sodat die seun se liggaam warm geword het. 35Nadat hy 'n keer heen en weer in die huis geloop het, het hy weer op hom gaan lê. Die seun het sewe keer genies en toe sy oë oopgemaak.

36Elisa het vir Gehasi geroep en hom beveel om die Sunemmitiese vrou te roep. Hy het dit gedoen en toe sy inkom, sê Elisa vir haar: “Tel jou seun op.”

37Sy het ingekom en by sy voete op haar knieë geval en gebuig. Toe tel sy haar kind op en gaan uit.

2 KONINGS 4:23-37AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wat beteken dit om ’n man van God genoem te word? Kan dit wees dat ’n mens so gevul is met die heiligheid van God dat ander die teenwoordigheid van God in jou lewe kan bespeur? Is dit in die geval van Elisa ’n eretitel om sy gesag as profeet gestuur deur God te bekragtig, of kan dit wees dat die Gees van God in en deur ’n mens so werk dat ander die kragtige werking van God kan ervaar en beleef?

Elisa volg Elia op as profeteleier in Israel. Sowel Elia as Elisa doen wonderwerke om Israel te herinner aan die magtige teenwoordigheid van God in die land. Elisa wek die seun van ’n weduwee op uit die dood. 2 Konings 4 hou verband met 1 Konings 17: 17-24 waar Elia op ’n soortgelyke wyse ’n weduwee se seun wat dood was, weer lewend maak. Elia bid, en God verhoor sy gebed. Die seun word lewend. Die reaksie van die weduwee (vers 24) is dat Elia se wonderwerk wys dat hy ’n man van God is en dat dit wat die Here sê, die waarheid is.

Lewe hier bring geloof. Die weduwee se reaksie wanneer sy haar seun lewend sien, is om in God te glo. Nie geloof in die wonderwerker, die profeet, die man van God nie, maar geloof in God. Deur sy Gees wat in mense werk, bewerk God wonders. Geloof is die erkenning dat uit ons as mense geen wonder moontlik is nie. Slegs in afhanklikheid van God kan wonders uit die genade van God gebeur. Ons reaksie op wonders is geloof, geloof in God.

Geloof bring lewe. God verseker ons van sy nabyheid en versorging, nie as beloning omdat ons in Hom glo nie, maar as teken van sy almag en genade. Wie in Jesus glo, het die lewe, hier en nou, maar ook eendag die ewige lewe. Die wonder van geloof is die resultaat van die werking van die Heilige Gees.

Gebed

Dankie, Heer, dat U deur u Gees geloof in ons wek. Amen.

Prof Jaco Beyers, Universiteit van Pretoria/Centurion-Oos

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS