Dagboek 2021 – 21 Julie
Die Heilige Gees laat geregtigheid seëvier
Bybelteks(te)
2 KONINGS 8
'n Vrou kry haar grond terug
Gasael word koning oor Aram
Die lot van die weduwees en weeskinders was nog altyd in die hande van die samelewing. In ’n patriargale samelewing, soos in die Bybelse tyd, was die afwesigheid van ’n manlike familielid wat hom oor weduwees en wese in sy familie ontferm, so goed soos ’n vonnis tot armoede. Sonder ’n manlike weldoener, was daar geen hulp en geregtigheid vir ’n weduwee en weeskinders nie.
’n Vrou uit Israel verlaat haar huis om tydens ’n hongersnood tydelike heenkome in die buiteland te vind. Wanneer sy terugkom, is sy haar huis kwyt. Dit kon wees dat die huis leeggestaan het en mense dit begin bewoon het en nou weier om dit te ontruim. Iemand kon die huis by die vrou gehuur het, en mettertyd het hulle die huis as hul eiendom beskou. Dit kon selfs gebeur het dat die koning die eiendom vir hom geneem het. Hoe dit ook al sy, die vrou is haar huis onregmatig kwyt, en sy wend haar tot die hoogste gesag in die land. Sal ’n ou weduvrou hulp van die howe kan verwag? Sy probeer nietemin.
Teen alle verwagting in, vind sy ’n simpatieke oor by die koning. Dit sterk haar saak dat die slaaf van Elisa, die man van God, juis op daardie oomblik besig is om vir die koning van die wonderdade van Elisa te vertel. Dit is die einste vrou wie se seun Elisa uit die dood opgewek het (2 Kon 4: 23-37). Praat nou van op die regte plek op die regte tyd te wees!
Die weduwee word onmiddellik simpatiek aangehoor en ontvang die hulp van die koning om haar huis en eiendom, en sommer die totale oeste van die afgelope jaar toe sy weg was, terug te ontvang. Oorvloedige geregtigheid! Is dit deur haar eie toedoen? Is dit die man van God se handewerk? Is die koning edel en vroom? Dalk alles waar, maar meer nog, dit kon net gebeur in ’n gemeenskap waar God eis dat geregtigheid aan weduwees en wese gedoen word.
God werk agter die skerms en deur mense sodat geregtigheid kan seëvier.
Prof Jaco Beyers, Universiteit van Pretoria/Centurion-Oos