Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 19 Desember

Voel jy verlate?

Bybelteks(te)

MATTEUS 27

Jesus sterwe

45Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. 46Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

47Party van dié wat daar gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Hy roep vir Elia.”

48Een van hulle hardloop toe gou, vat 'n spons en maak dit vol suur wyn en hou dit op 'n stok vir Hom om te drink. 49Maar die ander sê: “Wag, laat ons kyk of Elia hom kom red.”

50Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

MATTEUS 27:45-50AFR83Maak oop in die Bybelleser

My God, my God, waarom het U My verlaat?

By Jesus se geboorte is die stempel van eensaamheid op Hom geplaas, want sy teken was die krip in ’n stal. Sy jeugjare het nie kinderuitgelatenheid geken nie. Toe Hy begin preek het, is sy eensaamheid verskerp deur die feit dat Hy nie begryp is nie. So het die verlatenheid opgeloop na die klimaks aan die kruis met hierdie vereensaamde woorde: My God, my God, waarom het U My verlaat? Met hierdie kreet gryp Hy ook terug na die Vader: …my God. Dit is ’n belydenis.

Die vrug van Christus se verlatenheid vir sy gelowiges is saamgevat in die bekende woorde: Hy is verlaat sodat ons nooit deur Hom verlaat sal word nie. Is dit waar? Is dit nou ’n vanselfsprekendheid? Orals ontmoet ons ’n droewige alleenheid by gelowiges wat hulle van God verlate voel. God se woordelikse belofte is vir jou nie genoeg nie. Daar moet ’n persoonlike boodskap vir jou wees, eers dan vind jy troos. Die gevoel van Godverlatenheid vind in normale gevalle sy oorsaak in ons sonde. Ons sny die vrywillige, vreugdevolle omgang met Hom af. Ons is traag, ons talm en ons gebede is vlak. Die sorge van die lewe gryp ons vas.

Dan gebeur die volgende: Ons vervreem van die Here. Ons maak ons los uit sy omhelsing, en dan begin die gevoel van Godverlatenheid. Solank jy aan Christus vashou, sal God jou nooit verlaat nie. Dit is sy belofte. Ware geloof kan altyd steun op sy teenwoordigheid. Deur jou geloof vind jy in Hom die metgesel deur die eensame jare van die lewe. In lyding en droefheid het jy die medelydende Voorbidder. As jy klein in die oordeel voor die troon van God staan, is sy hand in jou hand, en op sy kreet …my God, my God, waarom het U My verlaat? kan jy met sekerheid antwoord: My God, my God, U verlaat my nooit!

Ds Cornie Pieterse, Emeritus

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS