Dagboek 2021 – 20 April
Doekies omdraai
Bybelteks(te)
JOHANNES 20
Die leë graf
Sonde hou ons vasgenael en bevange. Hoe kry God ons van sonde af weg? God laat ons agterkom waartoe sonde in staat is. God laat jou Jesus sien sterf en besef: Ek doen dit aan Hom. Dít moet jou ’n weersin teen sonde laat kry, erg genoeg dat dit jou van sonde laat afsien, en van God af laat wegvlug!
’n Hond keer terug na sy braaksel toe, maar kry ek óóit weer die vrymoedigheid om na God toe terug te keer? Hoe? Wel, God bring my Sondae op grafbesoek. Ek gaan soontoe om te rou oor die afgestorwene, maar veral ook met berou oor alles wat ek anders moes gedoen het. Kyk nou, as die gevreesde dag kom waarop jy jou brouwerk in die oë moet kyk, kyk nou hoe sagkens werk God met mense wat eintlik ’n pak slae verdien.
Wat vind ek in die begraafplaas? ’n Oop graf, nie ’n gat in die hemel met ’n woedende, dreigende God nie. En die graf is leeg. Wat dáár moes wees, is nie; wat nié daar moes wees nie, is wél: doeke, dieselfde goed waarin jy babas toedraai, die goed wat die engele vir die herders gesê het die teken sal wees as hulle die Baba kry: Hy is nog in doeke toegedraai.
Ek sien nie ’n lyk wat my laat gril nie. Ook nie ’n lewende dooie wat my soos ’n zombie bestorm nie. Ek sien nie ’n verheerlikte liggaam wat blink soos sonlig sodat ek, wat reeds vir God so bang is, op vlug sou slaan nie. Net hierdie doeke, gestrooi én mooi opgerol. Ek wat gewoonlik sê Moet my nie die skok probeer spaar nie; wees met my reguit; praat prontuit; moenie doekies omdraai nie, vind in die graf waar ons Jesus Vrydagmiddag begrawe het net doeke, en vir eens is ek dankbaar God draai daar doekies om. Jesus werk sagkens met mense wat Hy liefhet.
Jesus het met my verstommende geduld en begrip. Ek is terug by God.
Ds Hennie la Grange, Kampersrus