Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 19 April

Vertoonkaskoppies

Bybelteks(te)

2 TIMOTEUS 2

20In 'n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse. 21As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy 'n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.

2 TIMOTEUS 2:20-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

My oumas het vertoonkaste met glasdeure en spieëls gehad om huisbesoek se teegoed in die voorkamer uit te stal: fyn porselein met teelepels uit wêreldstede en koekvurkies van oorgeblaasde goud. (Toe ék hul dominee word, moes ek by die kombuistafel tee uit koffiebekers drink!)

Gaan was jou! sê Paulus, want ’n alledaagse voorwerp, soos ’n koffiebeker, is skoongewas nét so geskik vir besondere gebruik. ’n Alledaagse artikel is net so goed, of ten minste net so bruikbaar soos een van silwer of goud, as jy hom net mooi was. Dis nie hoe mooi hy lyk wat keer dat jou tee uitlek nie. As hy hol is, gaan hy werk. (Gewoonlik. Ouma se kosbaarste melkbeker was morsig, maar sy sou hom nooit met die vlekvryestaal kombuisstel s’n vervang nie. Nooit!) Maar hy moet darem skoon wees. Buitendien, fynporselein is ook maar van klei.

Hoe sit jy die evangelie voor? Tog nie uit die hoogte nie, nie beterweterig of aansitterig nie, en asseblief tog net sonder ’n gepronk en veroordeling. Christus rym nie met skynheiligheid nie. Gaan maak jy jou mooi skoon. Dis al. Skrop vir jou. Borsel jou tande, kam jou hare, trek vir jou aan. Doen iets aan jou sonde. Vermy die begeertes wat ’n jongmens verlei: Jonges weet altyd van beter, mos? En soms hou jy net op met praat. Bly ’n slag stil. Luister wat hoor jy.

En doen dit tog met fyn aanvoeling. Glo eers self, hê liefde en soek vrede, en sien die hart van die mens wat die Here aanroep raak. Dan kan jy die gepraat maar los, want wat jy doen, gaan skreeu. Wie jy is, gaan skyn. Staan met jou lyf en jou lewe in vir die evangelie wat jy bely. As jy God oordra, gebruik jou hele lyf. Daarvoor het jy ’n opstandingsliggaam gekry. Die fynste breekgoed: Jy!

Ds Hennie la Grange, Kampersrus

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS