Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 21 April

Stadig oor die klippertjies

Bybelteks(te)

JOHANNES 20

Jesus verskyn aan sy dissipels

19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.

21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

24Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”

Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

JOHANNES 20:19-25AFR83Maak oop in die Bybelleser

Het jy al agtergekom hoedat Jesus met verskillende mense op verskillende maniere werk om hulle, nadat Hy opgestaan het, na Hom toe terug te lok? Jesus help die een ongelowige na die ander glo dat Hy lewe; stadig, sensitief, liefdevol, begrypend, elke mens op sy eie manier, want nie almal hoef op dieselfde manier te glo, of met dieselfde haas gelowig te word nie. Johannes, die geliefde dissipel, glo dadelik. Maria van Magdala en die oorblywende tien dissipels het meer tyd nodig, Tomas die meeste van almal. Paulus sien veel later eers die lig. Jesus werk met elkeen van ons anders. Dit verg van Hom grenslose geduld om ons almal so vas te hou.

Die eerste geloof in die opstanding kom nie van wat mense sien nie, maar is die gevolg van wat hulle nie sien nie. Hulle sien ’n leë graf en doeke, sonder ’n lyk. Johannes sien dit in die konteks van Jesus se lewe en alles val vir hom in plek, en maak skielik sin! As dit met jou gebeur, kan jy dit skielik nie kleinkry hoe jy dit vroeër misgekyk het nie. Die leë graf is die logiese konsekwensie van alles wat ons van Jesus weet!

Maria sien Hom ook nie, en as sy Hom sien, herken sy Hom nie! Maria sien, maar sy glo nie van sien nie. Maria begin glo eers toe sy Jesus haar naam sê. Tomas wil ook sien, maar Jesus weet dat vir Tomas selfs om te sien, nie genoeg gaan wees nie. Tomas moet kan vat en voel. Kom, Tomas, kom kyk, kom kyk met jou vingers, kom vat aan My…

Nie net deur Jesus te sien nie, maar op verskillende maniere kom ons ook tot geloof. Daar is oral tekens en getuienis van Hom: doeke, boeke, berigte en gerugte, gelowiges en gemeentes, gebeure en gewaarwordinge… Noem maar op. Dis moontlik omdat Jesus met groot geduld elkeen van ons op ons eie manier help glo.

Ds Hennie la Grange, Kampersrus

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS