Dagboek 2021 – 2 Junie
Die Heilige Gees en bekeringstaal
Bybelteks(te)
HANDELINGE 2
Die eerste bekeerdes
Ons kyk na die werk van die Heilige Gees en dan na die verskillende tale wat ons hoor wanneer die Heilige Gees met ons praat. Vandag kyk ons na die taal van bekering.
Na Petrus se toespraak op pinksterdag toe die Heilige Gees uitgestort is, vra die mense in Jerusalem vir Petrus wat hulle moet doen. Wat moet nou volgende gebeur? Petrus se antwoord is: Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word … en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Bekering is die eerste aksie wat in hul lewens moes plaasvind. Bekering is die verandering van jou lewe op grond van ’n verandering van jou denke ten opsigte van sonde en regverdigheid. Op grond van dit wat die eerste gelowiges aangaande Christus gehoor het, moes daar ’n verandering in hul lewe plaasvind. Noudat hulle gehoor het van Christus, sy sterwe en opstanding, moes hulle anders begin lewe. Dit begin egter by hul manier van dink oor dinge. Hulle moes doelbewus stry teen die sonde en soek na die wil van God.
Die Heidelbergse Kategismus vrae en antwoorde 88 tot 90 handel oor bekering en sê dan dat bekering uit twee dele bestaan, naamlik die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens. Bekering word beskryf as die berou oor sonde en die wegvlug daarvan, en die lewe in gehoorsaamheid aan God. Dit is ’n doelbewuste keuse wat ons moet maak om van die sonde met al die uitvalle daarvan weg te vlug en ’n nuwe lewe te begin. Dit is om deur die Heilige Gees van Bo af weergebore te word.
Verstaan ons die opdrag tot bekering? Hoe lyk ons lewe? Mag ons vandag hoor dat ons anders moet lewe. Dat ons op grond van Christus se sterwe en opstanding ook nuut moet begin lewe. Deur die werk en krag van die Heilige Gees is dit moontlik.
Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas